top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Die reuk van lewe

Toe ek 20 jaar oud was is ek vir die eerste maal oorsee op ‘n studietoer van drie weke na Nederland en België. Wat ‘n wonderlike ervaring. In België aangekom het ons by ‘n groep plaaslike studente aangesluit wat saam met ons getoer het. Sommer gou het ek agtergekom dat daar iewers in die groep ‘n man is wat ongelooflik lekker ruik. Lank voor ek geweet het hoe hy lyk, het ek geweet hoe hy ruik!


Ek en my vriendin het van een parfumerie na ‘n ander geloop en gesoek na die reuk, tot ons dit gevind het: Egoïste Platinum pour homme… (gaan soek dit – jy sal verstaan!) Binne die volgende dag of wat het die reuk ‘n gesig gekry en ek was dadelik tot oor my ore toe verlief. Eintlik sou dit nie saak gemaak het hoe hy gelyk het nie, want ek was al verlief voor ek hom ontmoet het – nie op hom nie, maar op hoe hy geruik het! Vandag nog, elke keer as ek die reuk ruik, word my knieë lam.

Ons weet al te goed hoe sterk ons reuksintuig is. Dit het toegang tot ‘n deel van jou brein wat woorde nie kan ontsluit nie. So stap ek verlede week verby ‘n vrou in die straat en dadelik ruik ek my kleuterskooljuffrou en is ek ‘n dogtertjie van vier in haar klas, al kan ek nie eers haar naam of gesig onthou nie. Die reuk van die eerste reën op die grond na die winter, die reuk van vars gebakte brood, die reuk van varsgemaalde koffie. So sal ons eindeloos kan aanhou om die lys aan te vul.


In 2 Korinthiërs 2:14-15 (Nuwe Lewende Vertaling) staan daar hierdie aangrypende woorde: “Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek. Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg…”


Wat ‘n aangrypende en verbeeldingryke beeld. Stel jou voor: wanneer mense by ons verbyloop, met ons te doen kry, in ons teenwoordigheid is, stel ons die reuk van God deur Christus vry en herinner ons mense aan God, selfs God wat hulle nie ken nie. As ons iets hiervan begin verstaan, verstaan ek ook dat ek ‘n geweldige verantwoordelikheid het in terme van hoe ek lewe en wie ek is, want my lewe het die potensiaal om ander se diep behoefte aan God te ontsluit en hulle nader aan Hom te trek.


Nou is die vraag: hoe ruik die reuk wat deur jou en my lewe die wêreld ingestuur word? As ek iets hiervan verstaan kan ek dalk vir God vra dat Sy reuk my al meer en meer sal deurtrek (of “infuse”) sodat al minder van my, en al meer van die lewegewende aroma van God deur Jesus in my lewe sal deursypel en versprei. Die reuk van lewe…



46 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page