'n Bietjie beter
- Marina van der Linde
- Dec 18, 2024
- 2 min read
‘n Ruk gelede gesels ‘n groep mense oor iets wat iemand vir hulle gesê het wat die grootste impak op hulle gehad het. Een persoon vertel toe hoe hy homself op ‘n dag in ‘n lughawe se badkamer bevind het waar hy sy hande wou gaan was.
Daar was een ander persoon saam met hom by die wasbak. ‘n Baie netjies geklede man met ‘n pak en ‘n das, duidelik op pad na ‘n belangrike geleentheid. Die man was besig om die wasbak, krane en die hele area om die wasbak, waar hy so pas sy hande gewas het, met papierhanddoek af te vee.
Die ander persoon het natuurlik gesien wat hy doen en maak toe ‘n ou flou grappie deur vir die man in die pak te vra: “So, werk jy al lank hier?” Die man het sy kop so skuins na hom gedraai, geglimlag en gesê: “Daar is nie skade daarin om dinge beter te los as wat jy dit gekry het nie.”
Nodeloos om te sê het die ander persoon glad nie geweet hoe om te reageer nie, maar daardie woorde van ‘n vreemdeling in ‘n lughawe se badkamer het letterlik ‘n ringtinggewende invloed in sy lewe gehad.
Hy sê dat hy van daardie dag af met die diep besef geleef het dat jy elke dag eindelose keuses het oor jou interaksie met jou realiteit. Die vraag is of jy daardie keuses gebruik om jou wêreld ‘n bietjie beter agter te laat as hoe jy dit gevind het.
Hierdie selfde beginsel is natuurlik ook waar vir die mense met wie ek saamleef en wat my pad kruis: gaan hulle slegter of beter daaraan toe wees nadat hulle met my te doen gehad het?
Brennan Manning skryf op ‘n keer in sy boek Furious Longing: “You are going to leave people feeling a little better or a little worse. You are going to affirm them or deprive them, but there’ll be no neutral exchange.”
Mag hierdie woorde van ‘n vreemdeling voor ‘n wasbak my en jou vandag ook inspireer.
©️ Marina vd Linde 2024

Comments