top of page
Writer's pictureMarina Strydom

“A beneficial presence...”

Eenmaal was ek by ‘n konferensie waar ‘n Ierse non die oggendoordenking behartig het. In haar gebed het sy onder andere die volgende gesê: “Lord, please help me to be a beneficial presence today...”

Die woorde het my diep geraak.

“A beneficial presence...”


Wat sou dit vir my beteken om in my alledaagse lewe, met elke kans wat ek kry, ‘n “beneficial presence” te wees? Hoe sou dit lyk wanneer ek ‘n voordeeldraende teenwoordigheid in mense se lewens is?


Daar is deesdae ‘n beweging wat gelowiges wil laat skuldig voel omdat hulle nie meer doen nie. Ons reageer op verskillende maniere hierop. Sommige van ons voel maar net heeltyd skuldig – soms minder, ander kere meer. Ander van ons probeer so nou en dan darem net iets doen om nie so skuldig te voel nie – een of ander grootse en monumentele uitskieter poging – maar in ‘n land soos Suid-Afrika steek die skuld maar vas. Daar is die van ons wat ook voel dat ons op meer volhoubare en langtermyn maniere by nood van een of ander aard (mense of diere) wil betrokke wees. As jy nie so iemand is nie, kan ‘n mens maklik voel dat diepliggende skuld jou verlam, en dan doen jy “niks”.


Dalk is die mees volhoubare oplossing om deur daaglikse “random acts of kindness” in enige gegewe konteks ‘n “beneficial presence” te wees, wat nie in die oomblik iemand se ganse lewe verander nie, maar wat in daardie oomblik op daardie plek iets van God se lig en lewe is. Hier gaan dit dus oor die teenwoordigheid wat ek as kind van God na elke situasie in my lewe bring en nie soseer oor uitskieter gebeure nie. Ek glo dat God wil hê dat ons elke dag, in soveel moontlike alledaagse en doodmenslike situasies, oral sy anonieme agente van liefde en lewe en genade kan wees.


“Random acts of kindness” beteken dat ek elke dag in elke konteks waar ek my bevind sal oop wees vir geleenthede waarin ek klein, selfs onopmerkbare verskille in mense se lewens kan maak. Soos om die tannie by Checkers met haar waentjie te help wat vashaak, om ‘n sjokolade by die petrol garage te koop vir iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan, om die kennis wat ek op straat raakloop 10 minute van my tyd te gee om net bietjie af te pak oor die uitdagings wat hy of sy tans ervaar, om die boemelaar by die karvenster te groet (sonder om te voel dat ek iets moet gee!).



Deur oor myself te begin dink as iemand wat as gevolg van my verhouding met God iets van God se Gees in die wêreld kan indra deur my gewone lewe, kan ek ‘n “beneficial presence” of voordeeldraende teenwoordigheid in mense se lewe word.


Mag die Here ons seën met die gewilligheid om nie deur die lewe en die konteks platgeslaan te word nie, maar om te kies om anonieme agente te wees wat oral waar ons kom niks anders as ‘n “beneficial presence” is nie.

1 view0 comments

Recent Posts

See All

Opmerkingen


bottom of page