Die ompad wat nie werk nie
- Marina van der Linde

- May 27
- 3 min read

Die meeste van ons hou nie daarvan om moeilike emosionele dinge te doen nie. Ons sal nogal ver gaan om eerder dinge wat ons op ‘n verhoudings- en emosionele vlak pla en saboteer onder die mat in te vee, te maak of dit nie daar is nie en dit te probeer omseil.
Een van die gunsteling metodes wat gelowige mense gebruik om dit reg te kry is “spiritual byapssing”. “Spiritual bypassing” is 'n term wat deur die psigoterapeut, John Welwood, geskep is en verwys na die gebruik van geestelike idees, praktyke of ervarings om te verhoed dat onopgeloste emosionele kwessies, sielkundige wonde, ontwikkelingstake, emosionele ongemak of noodsaaklike verhoudingskwessies in die gesig gestaar word.
Dit behels in wese om moeilike emosies of sielkundige uitdagings te systap deur op geestelike konsepte of praktyke te fokus eerder as om die onderliggende kwessies aan te spreek. Om byvoorbeeld te sê: “Bid net daaroor”, sonder om die verhoudingskwessie in persooon aan te spreek. Of om al meer boeke te lees en kursusse te doen, sonder om die werklike interne werk te doen.
Die gevolg van “spiritual bypassing” is dat dit 'n tydelike gevoel van verligting kan bied, maar ware genesing en persoonlike groei belemmer. Dit gevolg is ‘n verwydering tussen geestelike praktyke en geleefde ervaring, wat uiteindelik leie tot ‘n ervaring van ongegrondheid of verwydering of vasgevaldheid of ontevredenheid op ‘n diep eksistensiële vlak.
Herken jy dalk iets van “spiritual bypassing” in jouself, veral wanneer dinge erg ongemaklik voel en daar baie ego-weerstand is?
Onder die vernis van elke gelowige mens lê daar ‘n leeftyd se dinge soos skaamte, wantroue, leuens, verraad, vernedering, verwerping, “abandonment”, verwaarlosing, teleurstelling, wrokkigheid, geheime, skandes en skuld.
Dit is ‘n heel nuwe vlak van bewuswording, groei en transformasie om daardie dinge intensioneel in die gesig te staar en daardeur te groei.
Dit gaan nie beter word deur harder te bid, meer Bybelstudie te doen, meer kerk toe te gaan, meer diens te lewer, meer geld te gee en nog ‘n kursus by te woon nie.
Of soos Thomas Keating dit stel: “It has to be dealt with, if it isn't in early life, it will simply explode in your 50s and perhaps 60s (of selfs 70’s en 80’s) to the great detriment of one's self-confidence and perhaps one's ministries.”
Dit is nie heeltemal so eenvoudig nie, maar as ‘n mens sê dat jy min vreugde en vervulling in jou lewe ervaar en kwaad, bitter en depressief voel is daar moontlik (hoogs waarskynlik) ‘n diskonneksie (disconnect) tussen jou spiritualiteit en jou psigologiese, emosionele en verhoudingskomponente.
Die emosionele werk waarmee ek dalk al lankal moes besig wees, die verwonding van my kindertyd wat my net meer en meer van onder af dryf hoe ouer ek word, die verhoudingskwessies wat onaangespreek bly, is net so deel van my verhouding met die Here, soos my gesloofspraktyke.
Pete Scazzero sê: “Emotional health and spiritual maturity are inseparable. It is not possible to be spiritually mature while remaining emotionally immature. While I sincerely loved Jesus Christ, I was an emotional infant unwilling to look at my immaturity.”
Ek wil jou nooi om nie langer daardie noodsaaklike interne roepstem onder die mat in te vee nie. Al wat met verloop van tyd gebeur is dat dit daar onder die mat horings, tande en ‘n stert groei en jou eventueel kom byt. Dit wat ons onderdruk of omseil kom altyd weer op een of ander manier uit. Dit is ‘n ompad wat nie werk nie.
Soos Robert Frost gesê het: “The only way out is through”. En jy doen dit nie alleen nie: die Here is tree vir tree by jou.
©️ Marina van der Linde 2025







Comments