top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Die Mona Lisa: Agter die skerms


Ek het al van kleins af so bietjie van ‘n obsessie met die Mona Lisa. En ek is beslis nie uniek nie! John Lichfield het oor die Mona Lisa gesê: "It is the best known, the most visited, the most written about, the most sung about, the most parodied work of art in the world".


Ek dink dit is veilig om te sê dat die legende van die Mona Lisa skildery aansienlik groter geword het as wat die regte persoon ooit sou wees. Presies waarom, is moeilik om te sê. Al wat ons weet is dat hierdie skildery waaraan Da Vinci tussen 1503 en 1517 gewerk het, deur die loop van 500 jaar ‘n lewe van haar eie aangeneem het.


Hoogs waarskynlik was dit oorspronklik ‘n opdragwerk deur Francesco de Giocondo van sy vrou Lisa Gherardini, maar om een of ander rede is die skildery nooit aan hulle gegee nie en het dit in Da Vinci se besit gebly tot en met sy dood. Vandag is hierdie skildery, wat maar 77cm x 53cm groot is, deel van die permanente uitstalling in die Louvre en skares mense besoek dit jaarliks.


Een van die groot redes waarom hierdie ikoniese skildery my fassineer, is die geheimsinnigheid waarin dit gehul is – hierdie legende en misterie wat vertel van iets waaroor ons mense altyd sal wonder, eindeloos sal spekuleer en nooit werklik sal weet nie.

Of soos Nat King Cole dit verwoord: “Well, is your smile to tempt a lover, Mona Lisa? Or is this your way to hide a broken heart? Many dreams have been brought to your doorstep They just lie there and they die there Are you warm? Are you real Mona Lisa Or just a cold and lonely lovely work of art?”


So is dit met elkeen van ons. Ten diepste is elke mens ‘n volslae misterie, ‘n Mona Lisa in eie reg. ‘n Mens kan 60 jaar met ‘n persoon getroud wees en nog steeds nie daardie persoon volledig ken nie. Soos Mignon McLaughlin gesê het: “A successful marriage requires falling in love many times ­­– always with the same person.”

‘n Mens kan 110 jaar oud word en nog steeds nie die dieptes van jouself behoorlik ken nie.

Selfkennis is soos ‘n ui – daar is altyd ‘n nuwe laag en hoe nader ‘n mens aan die kern kom, hoe fyner word die lae, maar dit hou nooit op nie.

Selfkennis is soos om te vervel. Daar is voortdurend iets nuuts en anders om te ontdek en soos elke vorige laag afdop, besef jy dat daar dimensies aan jou is waarvan jy nooit bewus was nie.


‘n Mens kan nooit by ‘n plek kom waar jy jouself of iemand anders volledig ken nie. Dit is juis hierdie onkenbaarheid van ons mense wat ons fassinerend maak. Net soos wat ek nie my eie groei en vorming mag inhibeer nie, mag ek dit beslis ook nie met iemand anders doen nie.


‘n Vriend het ‘n paar jaar gelede vir my vertel van ‘n Indiese spreekwoord wat sou sê: “If you claim to know me, you kill me in your midst.” James Hollis neig in dieselfde rigting: “Preventing someone’s growth is a spiritual crime.”


God het ons gemaak as wesens wat voortdurend deur prosesse van groei en evolusie gaan, maar steeds leef met die diep behoefte om te ken en om geken te word.

Mag ons nooit dink dat ons ‘n volledige greep op onsself of die mense in ons lewe het nie, maar mag ons altyd die moed hê om die ruimte te skep vir iemand anders om te word wie daardie persoon veronderstel is om te word; om nie van die mense in ons lewe voëls in koue met geknipte vlerke te maak nie, maar hulle toe te laat om te vlieg en te floreer. Mag ons dit beslis ook vir onsself gun. Mag ons kans sien om onsself en ander weer en weer te leer ken.


As ons saam groei en mekaar aanhoudend herontdek, sal daar nooit ‘n vervelige oomblik wees nie. En so word ons elkeen ‘n misterie, ‘n kunswerk, wat nie sommer so maklik vasgevang word nie, soos die Mona Lisa.








26 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page