Soos ons al te goed weet is vandag Palmsondag, die laaste Sondag van Lydenstyd. Ons onthou op hierdie dag die verhaal van Jesus se intog in Jerusalem waar mense onder andere palmtakke swaai om aan Hom eer te bring. Dalk sou ‘n mens ook hierdie verhaal kon noem “Die Man op die geleende donkie” (na aanleiding van die titel van Denise Ackerman se laaste boek).
Die mense het gedink Hy kom om die Romeinse oorheersing omver te werp, maar sy motief was net een ding en dit was om vir mense te kom wys wie God is en hoe die pad na God lyk sodat die afstand tussen God en mense vir goed herstel kon wees en mense vir altyd kon verstaan dat hulle weer in harmonie met God kan leef, soos aan die begin.
Neels Jackson skryf so in sy gedig “Perd en donkie”:
Met ‘n donkie gaan jy nie oorlog toe nie.
Eeue se krygers het perd opgesaal
om glorie op die slagveld te gaan haal.
Vir ‘n donkie sal jy diens kon vra:
om ‘n kar te trek, ‘n sak meel te dra…
Met ‘n perd kan jy die slinksste vyand jag;
hom inhaal en oorweldig met brute krag.
Op ‘n perd kon ‘n heerser van weleer
sy meesterskap demonstreer.
Daar sit die grote Alexander,
Nero, Napoleon en elke ander
Vegtende vors: op die rug van sy ros.
Maar Jesus,
Jesus Christus,
Hy…
Hy het op ‘n donkie gery.
Miskien is dit presies wat in hierdie verhaal oor die intog in Jerusalem gebeur: Jesus kies intensioneel om die skare te forseer om te sien wie hy eintlik is – deur nie met ‘n perd as deel van ‘n groot imposante optog of parade op te daag nie, maar op die rug van ‘n geleende donkie. Maar hulle weier om Hom te sien vir wie Hy is omdat hulle glo dat Hy moet inpas in hulle eie idee van wie hulle wil hê Hy moet wees.
Dalk was dit wat die skare daardie dag in Jerusalem moes besef: die nuwe kans op lewe waarna hulle gesmag het was nie te vind in ‘n nuwe Koning nie, maar in nuwe harte wat Jesus kon raaksien vir wie Hy wou wees en kon toelaat dat Hy hulle op ‘n nuwe pad kom lei.
Iewers skryf Richard Rohr: “Remember that the ashes that were on your forehead are created from the burnt palms of last Palm Sunday. New beginnings invariably come from old false things that are allowed to die.”
Soms wy ons al ons krag en energie daaraan om ‘n sekere aspek van realiteit op ‘n hart long masjien lewendig te hou, terwyl die waarheid is dat daardie aspek van my lewe of realiteit reeds besig is om ‘n laaste asem uit te blaas.
Die palmtakke wat die skares geswaai het, wat hulle eie idees gesimboliseer het, is vinnig tot as verbrand deur die Man op die geleende donkie, sodat hulle wel moes erken dat dit jou nie ver bring as jy die Here in jou eie patrone probeer inforseer nie.
Wat sou in my en jou lewe gebeur as ons God sou toelaat om te wees wie Hy is en
nie wie ek wil hê Hy moet wees nie? Wat sou gebeur as ek sou toelaat dat God in my lewe kom doen waarvoor Hy Jesus gestuur het en nie so hard probeer om my eie weergawe van wat ek wil hê, forseer om te gebeur nie?
Daar is ‘n baie goeie kans dat God met iets anders in jou lewe wil besig wees as wat jy dink. Die vraag is of ek en jy bereid is mee te gee aan dit wat Hy wil doen en ons eie agendas eenkant te skuif?
Mag elkeen van ons dapper genoeg wees om te begin raaksien hoe ons selfs vir God in ons idees probeer inforseer. En mag ons toelaat dat Jesus ‘n pad in my hart maak en wees wie Hy in my lewe wil wees.
Comments