top of page

Die "higher road"

Updated: Feb 14




Ek praat met soveel mense wat iets sê soos: hulle het geweet 2024 gaan nie net maanskyn en rose wees nie, maar as dit is hoe Januarie was, weet hulle darem nie! Iemand anders sê: Dit voel of sy heeltyd opdraande ry met die handrem aan. Ek wonder of jy dalk ook so voel?

 

In Prediker 9:12 is daar hierdie vers wat iets aangrypend verwoord van ons reaksie op die altyd onverwagse aanslae van die lewe:

Soos visse wat gevang word in 'n net,

soos voëls wat gevang word in 'n wip,

so word die mens gevang as die teëspoed kom,

as dit hom skielik oorval.

 

Prediker is reg: wanneer die lewe moeilik raak, raak die meeste van ons totaal “stuck” of vasgevang. Ons weet nie hoe om die stormsee van die lewe te navigeer nie. Ons raak in onsself gekeer en afgestomp. In die proses vervlak ons en raak letterlik vasgevang in die alledaagse net van om al skuifelende net een voet voor die ander te sit.

 

As dit maar is hoe die lewe is, beteken dit dat ons gaan moet leer om in uitdagende tye op ‘n ander manier te reageer. Ons gaan moet leer om vanuit ‘n hoër vlak van bewussyn te leef te midde van moeilike omstandighede. Om dieper te kyk, dieper te dink. Om nie toe te gee aan fatalisme en hopeloosheid nie. Om nie die heeltyd deur die golwe van eksterne omstandighede meegesleur te word nie, maar dit is nie altyd so maklik nie.

 

Henri Nouwen sê dat ons moet kies tussen die “higher road” en die “lower road”.

“Higher road” beteken onder andere ek kyk soos God kyk, ek sien ander perspektiewe en sien ander uitkomste.

“Lower road” kan beteken ek stap die pad van my ego wat besaai is met vrese en beheer, en ek raak al meer vasgeloop en vasgeval en doen nie die diep werk wat nodig is in myself nie.

 

En hoe leer ‘n mens die “higher road”? Nie eerstens deur selfhelpkursusse nie, maar deur elke dag ‘n klein bietjie tyd in God se teenwoordigheid te spandeer.

 

Daar is geen manier dat ons op ‘n dieper manier op realiteit gaan reageer as ons nie besig is om toe te laat dat God iets nuuts in ons doen nie, en dit gebeur wanneer ek so gereeld as moontlik daaglikse tyd in God se teenwoordigheid spandeer, sodat ek al meer vanuit Sy perspektief na die lewe kan leer kyk.

 

As dit moeilik gaan en jy in oorlewingsmodus terugval, is tyd in God se teenwoordigheid dikwels die eerste ding wat jy laat gaan, terwyl dit een van die belangrikste dinge is wat ‘n mens moet byhou.

 

Waarom is dit so belangrik? Ronald Rolheiser verwoord dit so: “When we start to spend more time with God we start to live a life tuned into God’s frequency, we start to see our lives from “above” and not from “below”’.

 

Die uiteindelike resultaat as ek wel die “higher road” kies, deur toe te laat dat God my leer om van “above” te leef is die volgende:

·      Ek kyk met ‘n ander lens na wat gebeur.

·      Ek sien meer as net een perspektief.

·      Ek kan vra: Wat dra ek by tot die lewe van die probleem?

·      Ek kan die dieper dimensies van die lewe raaksien en daaruit leef.

·      My kapasiteit vir kompleksiteit word meer.

·      Ek kan in die spanningsveld van kompleksiteite en spanning leef.

·      As ons nie anders dink nie gaan ons nie anders doen nie. En die enigste een wat ten diepste ons bewussyn kan verander is God.

 

As jy dus een ding wil doen wat ‘n verskil kan maak aan hoe jy op realiteit reageer, begin deur net ‘n bietjie tyd elke dag alleen in God se teenwoordigheid te spandeer, waartydens jy jouself oopstel vir die werk van die Here diep binne-in jou.

 

As God begin om my manier van dink en wees te verander, kan realiteit maar bring wat dit wil bring, daar sal iets standvastig in my wees, wat my help om koers te hou en nie van “onder” af na my lewe te kyk nie, maar van “bo” af.

©️ Marina vd Linde 2024

7 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


Los comentarios se han desactivado.
bottom of page