top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Die Geskenk

Die lewe is nie eenvoudig nie. Elke nou en dan gebeur daar een of ander ding wat ‘n mens laat dink: Was dit nou nodig?


Sommige van ons sien die dinge wat skeefloop as God se straf vir ons sonde. Ek moet sê dat ek sukkel om my te vereenselwig met ‘n God wat mense links en reg straf. Dit klink meer soos ‘n god uit die Griekse mitologie as die God wat ons in Jesus leer ken.


Daar is ook die wat besef dat die lewe as sulks ‘n mengsel is van alles wat goed en alles wat sleg is en dat ons dikwels nie kan kies wat om die volgende hoek vir ons wag nie. Soms is dit wat om die volgende hoek wag nie ‘n gebeurtenis nie, maar ‘n mens. Ek wonder of jy ook al gevoel het dat ‘n mens met jou gebeur?


Wanneer ‘n mens met jou gebeur is dit veel meer as om iemand te ontmoet of om iemand te leer ken. Dit is ‘n mens wat in jou lewe inkom en jou lewe vir altyd ingrypend verander. Soveel so dat jy nooit weer daarna dieselfde kan wees nie.


Richard Rohr sê graag: “There are only two things that transforms: great suffering and great love.” Mense kan maklik die oorsaak van great love of great suffering wees en so ‘n reuse invloed op jou lewe hê.

Ons sien makliker die lewegewende mense in ons lewe as ‘n geskenk. Nie dat daardie soort verhoudings net maklik is nie, want dit roep jou tot verantwoordelikheid, tot groter bewustelikheid, tot egtheid, lojaliteit, eerlikheid, kwesbaarheid en intimiteit. Hierdie lewegewende verhoudings het dus ook ‘n prys, naamlik dat jy die agenda van jou ego laat staan om saam met ‘n ander mens te groei.


Maar dan is daar diegene wat ‘n vernietigende effek op ons lewe het. Frida Kahlo verwoord haar katastrofiese verhouding met Diego Rivera so: “There have been two great accidents in my life. One was the trolley, and the other was Diego. Diego was by far the worst.” Maar hoe gemaak as ek die dag besef dat die teenwoordigheid van ‘n sekere mens in my lewe ‘n fiasko was? Die maklikste reaksie is om die slagoffer of die martelaar in die verhaal van my lewe word. Die dapperste – en beslis ook moeilikste – uitdaging is om toe te laat dat God my op ‘n paradoksale manier in dit ontmoet en dat ek aan God sal toestemming gee om my, te midde van dit wat gebeur het, te transformeer en te omskep in ‘n ryker, mooier, wyser mens, juis as gevolg van daardie mens wat met jou gebeur het.


So word nie net die lewegewende verhoudings en mense in ons lewe ‘n geskenk nie, maar kan die vernietigende verhoudings of mense ook met verloop van tyd ‘n geskenk word (en dit sê ek met groot respek vir jou verhaal en glad nie ligtelik nie).


Mary Oliver verwoord dit so:


(In my sleep I dreamed this poem)


Someone I loved once gave me

a box full of darkness.


It took me years to understand

that this, too, was a gift.




73 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page