top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Die Deurskynendes

Ek wonder of jy ook al deurskynend gevoel het? Ek gesels die laaste tyd met te veel mense, veral vroue, maar beslis ook mans, wat almal min of meer dieselfde storie vertel. Een persoon sê: “Dit het baie beter met my gegaan voor ek ‘n stem gehad het.” Iemand anders sê: “Daar is baie weerstand, omdat ek nou begin sê dat ek ook iemand is.”


Ek wonder of jy dit herken? As daar besluit word waarheen die gesin met vakansie gaan, sê jy julle kan besluit. As daar gevra word wat wil jy kyk, sê jy jy kan besluit. Wanneer daar besluit word om te gaan uiteet, sê jy dit maak nie saak waar nie. Selde of ooit word jou voorkeur of jou opinie of dit wat vir jou belangrik is of selfs net lekker sou wees, op die tafel gesit nie. Na baie jare gebeur dit dan: jy word nie meer gevra nie, jou opinie word nie meer opgesoek nie, jou keuse word nie meer in ag geneem nie.


En dan op ‘n dag besef jy dit en die besef skop jou in die maag: ek het deurskynend geword. Gewoonlik, nadat ‘n mens dit agtergekom het, is jy geneig om in jouself woedend te wees vir die mense in jou lewe wat jou so hanteer. Maar die vraag is of dit net hulle skuld is? Dalk dra ‘n mens self ‘n groot deel van die verantwoordelikheid vir hoe jy hanteer word.


Daar is ‘n gesegde wat sê: “You train people how to treat you”. Dit is nie ‘n lekker besef nie. Trouens, dit is ‘n aaklige besef, veral as jy agterkom dat jy deurskynend geword het en dat mense jou as vanselfsprekend en deel van die meubels en selfs as ‘n vloerlap of slaaf hanteer, omdat jy hulle geleer het om dit te doen.


So waar begin ‘n mens? By daardie pynlike plek om dit te waag om te praat. Om te waag om te sê: “Nee” of “Dit is nie ok nie” of “Ek hou nie daarvan as jy so met my maak nie…”.


Gesonde volwasse verhoudings is een lang kompromie. Dit gebeur selde dat die mense in die verhouding dieselfde wil hê, maar daar waar net een persoon of groep se voorkeur altyd gekies word, trek dinge skeef en word die verhouding ongesond, in so ‘n mate dat dit baie vinnig nie ‘n lewegewende ruimte is nie.


Wanneer een persoon of groep altyd hulle sin kry, weer dit dalk vir die oomblik die konflik af, maar oor die lang termyn is dit ‘n resep vir ‘n fiasko. Geen siel kan vir altyd platgedruk word nie.


Iewers het daar die idee ontstaan dat ons as gelowige mense vloerlappe moet wees en dat dit is wat dit beteken om aan jouself te sterf: wees altyd die minste, laat mense reg bo-oor jou loop, word deurskynend. Nie eers Jesus het dit geglo nie! So wie daardie idee by ons ingeprent het weet ek regtig nie. As ek na Jesus kyk sien ek iemand wat nie bang is om sy sê te sê en om sterk opinies te lug nie.


In Lukas 4:28-30 lees ons hoe maak Hy vir homself ‘n pad oop deur die skare wat probeer om Hom by ‘n krans af te gooi omdat Hy sê dat Hy die Messias is.

Hy gee nie toe aan sy ma en broers se eise wanneer hulle hul verhouding met Hom probeer gebruik om Hom van die skare te probeer wegtrek nie (Matteus 12:46-50).

Wanneer die geloofsleiers probeer om vir Jesus uitlokkende vrae met ‘n onsuiwer motief en agenda te vra, gee Hy nie daaraan toe nie, maar handhaaf afstand deur hulle met slim vrae te antwoord (Matteus 21:23-27, 22:15-22)

Hoekom kon Jesus dit doen? Want Hy het geweet wie Hy was en wie God Hom gemaak het. Hy het nie ja gesê vir alles nie. Hy was ook nie 24 uur ‘n dag beskikbaar nie. En Hy het nie toegelaat dat ander mense bepaal of voorskryf watter keuses Hy maak nie. Hy was ‘n dienskneg, maar nie ‘n vloerlap nie.


Om te leer om jou stem te laat hoor beteken nie dat jy moet bulder of baklei of skree nie. Maar dit beteken wel dat jy êrens in jouself die moed sal vind om te sê wat jy wil hê en te weet dat dit moontlik met groot weerstand gepaard sal gaan. Onthou dat dit waarskynlik die mense in jou lewe se belange dien dat jy deurskynend is. Deurskynende mense veroorsaak nie spanning in sisteme nie.


Dalk voel jy tans dat dit vir jou beter is of vir jou werk om deurskynend te wees. Maar as jy wel die dag besluit dat jy nie meer deurskynend wil wees nie, wees verseker, dit is nie ‘n sonde nie.





7 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page