
Een van die vernaamste dinge waarmee ons mense veronderstel is om op aarde besig te wees is om die beste weergawe te word van wie God my bedoel het om te wees. Op my diepliggende spirituele pad saam met die Here is dit een van die hooftake. Sukses en welvaart en erkenning en prestasies en die realiseer van my drome help maar veel as ek ‘n aaklige mens is.
Mary Shelley verwoord dit net effens anders: “There is but one solution to the intricate riddle of life, to improve ourselves and contribute to the happiness of others.”
Een van die groot Enneagram skole gaan van die standpunt uit dat daar ‘n gemiddelde ego-weergawe van ons elkeen bestaan en dit is die weergawe van onsself wat ons meestal is: doen sonder om vreeslik te dink of bewus te wees.
Hoe langer ek hier fuksioneer hoe groter word die kans dat ek met verloop van ‘n tyd ‘n ongesonder weergawe van myself word, tot ek later hoofsaaklik vanuit ‘n ongesonde plek funksioneer en die mense om my ‘n lewe lei.
As ek egter bewus is van hoe ek funksioneer en sien wat die effek van my gedrag op die mense om my is, word ek met verloop van tyd ‘n gesonder weergawe van myself en begin al meer op ‘n manier optree wat vir die mense om my goed en lewegewend is (goed en lewegewend is nie gelyk aan vloerlap nie).
Daarom is dit dalk goed dat ons elkeen met onsself gaan sit en vra: Hoe lyk die ego-weergawe van myself, hoe lyk die ongesondste weergawe van myself en hoe tree ek op wanneer ek die beste weergawe van myself is?
En dan die volgende vrae: Presies om watter rede sou ek op maniere wou optree wat vir die mense om my skadelik is? Presies hoekom sou ek nie kies om so op te tree dat die lewe saam met my vir my mense goed is nie?
Ek en jy kan letterlik vir mekaar ‘n hemel of ‘n hel skep met hoe ons teenoor mekaar optree. En hierdie is nie net my taak nie. Verhoudings is altyd veronderstel om wederkerig en in ewemaat te gebeur. Hieroor moet ‘n mens eintlik met mekaar kommunikeer en al die partye in die verhouding behoort ‘n groei ingesteldheid te hê. Maar dit begin altyd by my – nie eerstens by die ander persoon nie.
Ek vermoed hierdie is ‘n groot deel van die antwoord op die raaisel van ‘n sinvolle en florerende lewe: wie ek kies om te wees, wie ek word…
Comments