top of page

Aanspreeklikheid


Elkeen van ons wat God se pad wil stap, moet van tyd tot tyd stilstaan en vra: “Wat gebeur hier?” Om te vra wat in my lewe aan die gebeur is, is meestal ’n moeilike oefening en die meeste mense hou nie noodwendig daarvan om so reflektief met hul eie lewens om te gaan nie. Tog is dit juis hier dat die groei plaasvind, want as ons kan eerlik wees, sien ons dinge soos dit regtig is en nie soos ons dink dit is of soos ons onsself en ander graag oortuig dit is nie. In hierdie opsig is ons elkeen aanspreeklik vir ons eie lewe. Romeine 14:12 stel dit nogal sterk: “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.


Die meeste van ons wat hier lees sal sê dat ons ernstig is oor ons verhouding met God en oor ons lewe, wat ingebed is in God se realiteit. Die vraag is egter, is ek werklik so oorgegee aan God se pad soos ek sê? Kies ek nie dalk om in ’n poel van emosionele pyn en my eie emosionele moeras vas te val? Soek ek nie dalk na geleenthede om ander verantwoordelik te maak vir hoe dit met my gaan en om ander saam met my in my moeras in te trek nie? In watter mate veroorsaak ek storms waarby ek ander probeer betrek, terwyl daardie storm ten diepste binne myself woed?


Bestaan daar ’n kans dat ek weet wat al die regte antwoorde is, maar nie die voor die hand liggende dinge doen wat God van my sou vra op ’n pad van transformasie nie? Of ons nou daarvan hou of nie, tyd alleen saam met God is essensieel op die dieper pad. Indien ek selde tyd in God se teenwoordigheid spandeer, moet ek myself dalk vra waarom nie? Wat weerhou my daarvan? Kan dit wees dat ek in beginsel erns maak hiermee, maar in praktyk dalk nie?

Tyd saam met God is hoegenaamd nie so romanties oos dit klink nie. Dit vra koue, harde commitment, maar die ruimte waarbinne God my diep in my Gees wil transformeer gaan nie soos ’n misterieuse wolk uit die hemel verskyn nie.


God wil my tot ’n heel geïntegreerde lewe lei, maar dit gaan dalk impliseer dat die ou patrone waarbinne ek altyd so vasval sal moet verander.

Iemand wat oor-emosioneel in sy/haar binne-wêreld vasval, word waarskynlik deur God geroep tot groter objektiwiteit en gelykmatigheid. Iemand wat geweldig rasioneel en krities deur die lewe gaan, word weer daartoe geroep om meer van sy/haar emosies bewus te word en kwesbaar te word en met deernis na jouself en ander te begin kyk.


Daar is net een persoon wat my keuses kan maak, en dit is ekself. Ek kan nie op my pad saam met God my aanspreeklikheid op die mense in my lewe, soos my lewensmaat of vriende of kleingroep, of selfs op God, afskuif nie. Dit is my eie verantwoordelikheid om toe te sien dat ek die prosessse in plek het waardeur God my kan transformeer.


Dalk spreek hierdie vraag ’n pynlike realiteit vir heelwat van ons aan: As ek werklik ernstig is oor God se pad, waarom reflekteer my keuses dit nie?


35 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


Les commentaires ont été désactivés.
bottom of page