Soms gebeur dit dat ‘n mens se woorde opraak. Jy weet eerlik nie wat om te sê nie. Dit is asof jou diepste woorde in jou keel stol; afsak tot op die bodem van jou maag en net daar lê. Dit is dan wanneer ons begin om maar oor ditjies en datjies te praat, wanneer die woorde wat ons wel sê oppervlakkig raak en wanneer ons maar praat oor die weer en die gewone dinge van die dag, want die woorde wat ons eintlik wil sê weeg te swaar vir die ore van die wat na ons gaan luister. Of erger nog, dat die woorde wat ons wil sê iemand anders laat voel dat hulle nou iets moet terug sê of moet red of raad gee.
Soms raak dit so stil dat dit ook stil word tussen jou en God. Dit is dan dat jy nodig het om te onthou dat God dieper hoor as jou woorde en dat jy moet leer dat jy God ook dieper kan leer hoor as jou woorde. As jou woorde opraak en jy nie weet wat om te sê nie, word dan juis net stil. Nie eers vir lang tye aanmekaar nie. Selfs net vir ‘n paar sekondes - werklik diep stil.
Dan begin jy God hoor wanneer ‘n bries vroegoggend deur die bome waai. Jy begin God hoor wanneer duisende Jakarandablomme grond toe reën. Jy begin God hoor wanneer jy luister na jou eie asemhaling. Jy begin dan agterkom dat jy God woordeloos en net met die erkenning in jou eie siel vir ‘n oomblik amper heeltyd kan hoor.
Dit is dan dat jy dit kan waag om te hoor hoe God dalk sou kon sê: “Alles is ok…”
So as jy vandag voel dat jou woorde op is, wees net stil.
Comments