top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Sagte grond

Updated: Mar 27

Een van die dinge wat my altyd tref as dit oor die Heilige Gees gaan, is dat die Gees ‘n “gentleman” is. Hy slaan ons nooit oor die kop of sleep ons aan die voete nie. Hy forseer ons nooit nie.

 

God se Gees wil graag soos ‘n sagte bries in jou lewe werk en jou al meer omvorm om God se mens te wees – om al meer die bewussyn van Christus te leef – maar – jy kan lelik daarteen weerstand bied. Die Gees kan waai soos sy wil, maar as ek my hakke inslaan en weier om te beweeg, gaan die Gees my nie forseer nie.

 

Dalk sien jy nie op hierdie stadium hoe jy weerstand bied teen die Gees nie. Selfs die mees toegewydes en gelowige mense onder ons bied elke nou en dan weerstand.

 

Weerstand teen die werk van die Gees en die diepliggende transformasie van my siel kan baie gesigte hê:

·      Ek kan alles intellektualiseer.

·      Ek kan vashou aan persepsies en idees wat my gevange hou, ideologieë wat eintlik al uitgedien is.

·      Ek kan weier om te erken dat ek verkeerd is of my reuse aandeel in ‘n sekere verhouding of situasie raaksien.

·      Ek kan weier om my houvas op sekere maniere van dink en wees te laat gaan.

·      Ek kan weier om te verander – anders op te tree, anders te kies, anders te dink en te praat en te doen.

·      Ek kan aanhou om sekere leuens oor my te glo.

·      Ek kan kies om eerder na ander mense te luister as na die stem van my siel.

Daar is nog baie ander voorbeelde.

 

Die vraag is natuurlik hoekom doen ons dit en die antwoord is eintlik eenvoudig:

Ego weerstand. Maar ons besef nie altyd ons saboteer ons eie groei daardeur nie.

 

Ek wonder sommer wat jy doen om weerstand te bied teen God se prosesse van lewe?

Ek weet wat ek graag doen en as ek dit raaksien is dit die aanduiding dat my ego alles in haar vermoë probeer om te verhoed dat God my verander, want as God my verander en ek al meer soos Christus word, is sy nie meer die koningin van die kasteel nie.

 

Daar is baie pertinente lesse wat elkeen van ons deur ons lewe moet leer. Daardie situasie of verhoudingslokval of patroon wat oor en oor herhaal, gaan aanhou voorkom tot ek geleer het wat ek moes. En eers nadat ek die les geleer het, gaan die “issue” minder van ‘n effek om my hê of selfs op ‘n dag soos mis voor die son verdwyn. Hierdie is nie een of ander godsdienstige filosofie nie. Dit is ‘n reël van die lewe. Hoe meer ek weerstand bied, hoe minder leer ek wat ek moet – tot my eie verdriet. 

 

Jare gelede het ek eenmaal besluit om ‘n paar rose in ‘n sekere bedding te plant. Ek het gedink dat die ligging van die bedding ideaal is, aangesien dit heelwat son gekry het. Tog wou die rose nie net floreer nie. Die plante het gelewe en blare gehad en ek het dit goed versorg, maar dit wou nooit blom nie. Ek het alles probeer. Uiteindelik het ek eendag uit desperaatheid die roosplante uitgehaal en probeer kyk wat in daardie bedding aangaan. Omtrent 20cm onder die bogrond, was die hele res van die bedding vol stukke bourommel. Die bourommel het letterlik weerstand gebied sodat die rose nie kon groei en floreer nie.

 

Die weerstand wat ons bied teen dit wat die Gees in ons wil doen, is die klippe en bourommel van ‘n mens eie binnekant.

Mag ek en jy soos ‘n bedding vol sagte grond wees – wat maklik meegee – en ontvanklik is vir

die sagte werk van God se Gees.

 

©️ Marina vd Linde 2024




Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page