Een van die dinge wat die meeste van ons in die afgelope twee jaar geleer het is dat geen planne permanent is nie. Ons moes noodgedwonge leer om meer aanpasbaar te wees. Ons moes leer dat, waar ek in die verlede kon sê ek gaan op daardie dag dit of dat doen, dit nie meer vanselfsprekend is nie. Vir die eerste keer in baie jare kon ‘n mens nie meer sê waarheen jy Desember vir vakansie gaan, by wie jy Paasfees gaan spandeer, wanneer jy weer jou hartsmense sien en waar en hoe jy jou verjaarsdag wil spandeer nie. Ons lewe het voorlopig geword.
Dalk was dit ‘n wins. Dalk was ons voorheen te arrogant en te seker van onsself. Dalk het ons te vinnig na die inkpen gegryp en permanente strepe vir vaste planne gestrek. Dalk het ons nodig gehad om weer te leer om die detail van die lewe met potlood in te skryf.
Dalk het ons verslaafdheid aan die ink van sekerheid ons meer inhibeer as wat ons gedink het. Dalk het die feit dat ons weer moes leer om met potlood te skryf meegebring dat ons minder bang is om te waag, om te leer, om te kyk wat gebeur as ek wel daardie kans sou waag. Om te leer om met potlood te skryf help ons om te onthou dat niks ooit dieselfde bly nie en dat alles met tyd in elk geval verander.
Aan die een kant gee dit ‘n sekere soort vryheid om te leer om met potlood skryf, maar dit hoef ons nie so onseker te maak dat ons permanent besig is om uit te vee nie. Om met potlood te skryf is ook nie ‘n vrypas om onnadenkend te lewe nie. Soos Josh Jenkins gesê het: “To err is human, but when the eraser wears out ahead of the pencil you’re overdoing it.”
Maar wanneer ons leer om met potlood te skryf, kom ons mettertyd agter dat ons nie die finale sê het nie. Soos Jakobus on in Jakobus 4 herinner: 13 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” 14 Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. 15 Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”
Ek weet nie van jou nie, maar ek is heel oop daarvoor om meer en meer die kuns van die lewe in potlood te leer.
Comments