Toe ek ‘n student was, het Louis Brittz ‘n lied gesing met die titel “Dromer”. In die lied sing hy onder andere die volgende woorde:
“U laat my drome waar word.
U verwesenlik elke ideaal.
U gee my my hartsbegeerte.”
As jong volwassene het hierdie woorde my ontsettend diep geraak. Hoe kan dit wees dat God my drome laat waar word, of my ideale laat verwesenlik en my hartsbegeerte aan my gee? Dis tog onmoontlik! Dis mos veronderstel om andersom te werk, want ek is mos veronderstel om God se drome en God se ideale en God se hartsbegeertes te vervul.
Maar in die afgelope paar dekades het ek agtergekom dat daar ‘n ongelooflike stuk wysheid daarin opgesluit is dat God met ons praat deur ons drome en hartsbegeertes, want dit is die plek waar my siel, wie ek bedoel is om te wees, die mees lewendige en ontvanklike is.
Baie gelowiges is bang vir so ‘n subjektiewe benadering rakende God se stem, want jy kan mos nou nie net enige ding begeer en dan is dit kwansuis God se stem nie! Die Evangelie leer ons al te goed dat gelowige mense se eie begeertes en ideale altyd gerig word uit iets dieper as ‘n selfsugtige soeke na wat vir my lekker is. Dat die essensie van wie ek is en wie ek deur God gemaak is om te wees, in elk geval net ten diepste in harmonie kan funksioneer, as my diepste wese ingestel is op God se frekwensie en in harmonie met Hom vibreer. As dit gebeur, sal ek God se openbaring in my eie hart vind en stelselmatig sien hoe ek moet leef (Psalm 37:4), omdat ek sal besig wees om God se droom as my verwysingspunt te gebruik (Matteus 6:33). Dan sal dit wat ek regtig wil hê van ‘n ander, dieper, suiwerder plek af kom as die agenda van my ego.
Dalk is een van die groot redes waarom ons sukkel om ons eie drome en begeertes met God se drome en begeertes te versoen, omdat ons vasgevang sit in persepsies en vooropgestelde godsdienstige idees van wat God se wil nou eintlik is. Sê nou God se droom en God se begeerte vir jou is veel ruimer, oper en vryer as wat jy altyd gedink het?
Ons sien nogal interessant genoeg hoe die Psalms iets van hierdie gedagte reflekteer:
Psalm 20:5:
“Mag Hy jou gee wat jou hart begeer
en al jou voornemens laat geluk.”
Psalm 37:4 en 5:
“Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
Psalm 37:31
“Die openbaring van sy God is in sy hart,
sy koers is nie onseker nie.”
Henry David Thoreau het iewers gesê: “If one advances confidently in the direction of his dreams, and endeavours to live the life which he has imagined, he will meet with a success unexpected in common hours.”
Parker Palmer skryf dat ons van ons eerste oomblikke op skool geleer word om na alles en almal behalwe onsself te luister. En dan vertel hy hoe hy dikwels op retreats of leergeleenthede sien dat mense die fasiliteerder en selfs van die ander retreatgangers se woorde neerskryf om te onthou en oor te dink, maar nooit hulle eie woorde nie.
Iewers het ons geleer dat ons eie stem nie vertrou kan word nie en dat die stem van my drome en hartsbegeertes, die stem van my eie siel maar ondermyn mag word, omdat dit niks anders as lugkastele is nie.
Ek wil jou nooi om iewers ‘n bietjie tyd te neem en aktief te sit en droom, jou hartsbegeertes doelbewus neer te skryf en te verwoord, en dit net eerlik en met ‘n opregte hart voor die Here te lê en dan te kyk of daar nie ‘n nuwe soort bewuswording in jou groei nie…
Daar is niemand wat meer weet wat vir jou goed is as jou eie siel nie. Die dilemma is net dat die samelewing ons kom leer het dat ons breine (dit wat logies is en sin maak) en ons siele (dit waaroor ons droom en ons laat lewendig voel) in stilstuipe moet saamleef.
Wat sou gebeur as ons breine en siele begin om saam te gesels?
Sou ons dalk kon vind dat daar iewers tussen dit wat sin maak en verantwoordelik is en dit wat my hart en begeertes roer, ‘n pad is?
Sou ek dalk kon ontdek dat ek God se stem hoor, wanneer ek na die stem van my drome en hartsbegeertes luister?

Comments