Tradisioneel het mense geglo dat daar eintlik maar twee maniere is waarop ‘n mens God se stem kan hoor, naamlik deur die Bybel te lees en deur tyd in die natuur te spandeer. In hierdie gedeelte het ons ook ander maniere ondersoek waardeur ons God se stem kan leer herken.
‘n Verdere manier waardeur ons God se stem kan herken, is deur die geselskap op te soek van mense wat werklik met jou siel praat. Soms sê sulke mense iets of vra iets, wat die goue draadjie lostorring om by ‘n dieper weet uit te kom. Alhoewel dit net my eie verantwoordelikheid is om die ruimte te skep waarbinne ek God se stem hoor, sukkel ek om dit heeltemal op my eie te doen. Hierdie mense kan natuurlik sielsgenote, vriende, familie en ander kennisse wees, maar dit kan ook ‘n intensionele verhouding wees soos ‘n “sacred conversation partner” of ‘n spirituele begeleier. Daar is soveel mense, selfs diegene wat jy nie persoonlik ken nie, wat diep met jou siel kan praat.
‘n Ruk gelede vertel ek vir een so ‘n persoon in my lewe van ‘n voorval wat my baie ontstel het. Terwyl ek daaroor praat en ek haar gesig dophou, besef ek hoe absurd dit is wat hier gebeur het en dat ek nie moet toelaat dat ek ontspoor word deur die gebeure nie, maar moet vashou aan wat ek diep weet.
Elkeen van ons weet eintlik presies watter mense goed is vir ons en watter nie. Ons weet wie die mense is om op te soek en mee tyd te spandeer wanneer ons siele nodig het om diep asem te haal.
Natuurlik is daar sommige mense in ‘n mens se lewe wat die teenoorgestelde effek het, en hier is elkeen van ons die kurator van ons eie siel en ons eie tyd. Wanneer ek te veel tyd saam met mense spandeer wat nie goed is vir my nie, sal dit redelik vinnig aan my binnekant en my buitekant begin wys.
Soms weet ‘n mens se lyf eerste dat iemand se teenwoordigheid ‘n destruktiewe effek op jou het. Daar is allerlei aanduidings, soos ‘n maag wat draai, stokstywe spiere, ‘n veg of vlug reaksie, hartkloppings en so meer. Wanneer my lyf so met my praat, moet ek daaraan aandag gee, want dit is my parasimpatiese senuweestelsel wat sê dat ek eintlik bedreig voel op ‘n manier.
Maar daardie mense wat my laat voel dat ek vry kan asemhaal, dat ek volledig myself kan wees, dat ek op geen manier veroordeel word nie en dat ek hier die ruimte vind om te word wie ek droom om te wees, is ‘n kosbare geskenk wat ‘n mens nie sommer om elke hoek en draai raakloop nie.
John O’Donohue skryf iewers: “If you allow yourself to be the person that you are, then everything will come into rhythm. If you live the life you love, you will receive shelter and blessings. Sometimes the great famine of blessing in and around us derives from the fact that we are not living the life we love, rather we are living the life that is expected of us. We have fallen out of rhythm with the secret signature and light of our own nature.”
Daar is mense wat die geheime handtekening en lig van ons ware aard kan sien en lees en waardeer. Daardie mense is waarskynlik van die mees waardevolle “hulpmiddels” om my te help om God se stem in my diepste wese te hoor en met die diep weet te leef van wie ek bedoel is om te wees en watter rigting ek met my lewe moet inslaan.
As jy nie sulke mense in jou lewe het nie, is dit net so ‘n groot aanduiding, en dalk is dit dan tyd vir ‘n dieper tyd van stilte en afsondering sodat ek kan leer om te onderskei vir watter soort mense ek oop moet wees.
Mag jy al meer bewus word van mense wat werklik met jou siel praat en so ook God se stem deur hulle hoor.

Comments