Onderskeiding is die vermoë om te weet watter rigting om met jou lewe te neem en om al meer en meer God se droom vir jou lewe te ken. Een van die dinge waaraan die mense van ons tyd ‘n reuse behoefte het, is iemand, of iets, wat vir hulle kan sê wat om te doen en wat hulle wys wat reg en verkeerd is. Om te kan onderskei watter pad die regte pad is om te neem en om God se stem te hoor, is nie so voor die hand liggend nie.
Erwin Mc Mannes het eenmaal gesê: “Making choices is the most spiritual thing you can do.” Hy was waarskynlik reg, want elke keuse wat jy maak, plaas jou op ‘n pad en elke pad wat jy kies, word die rigting van jou lewe; en dit bepaal uiteindelik jou bestemming.
Tog is God se manier van dink oor die keuses in ons lewens waarskynlik minder rigied as ons manier van dink. Daar bestaan ‘n goeie kans dat meer as een keuse ‘n goeie of regte keuse kan wees en selfs as ons ‘n fout maak, is daar nog steeds baie genade. George Verwer was van mening dat, as Plan A nie werk nie, is daar nog altyd plan B en C en as dit nie werk nie, is daar gelukkig nog ‘n groot alfabet.
Onderskeiding behels eerder die keuse tussen twee of meer goeie moontlikhede, as die keuse tussen goed en sleg. Om te kies tussen goed en sleg is meestal redelik voor die hand liggend. Om egter tussen twee potensieel goeie dinge te kies is aansienlik moeiliker. Dit is hier waar prosesse van onderskeiding noodsaaklik is.
Twee tegnieke wat ons baie kan help om met onderskeiding te leef, is dagrefleksie en die intensiewe joernaal.
Dagrefleksie
Dagrefleksie (ook genoem “examen”) is deel van die geestelike oefeninge van Ignatius van Loyola. In Ignatius se eie lewe, was refleksie ‘n belangrike komponent van sy daaglikse dieper leef saam met God. Hy het van die standpunt uitgegaan dat God met ons praat deur ons diepste ervarings en begeertes. Hierdie interne bewegings het hy onderskei as vertroosting (“consolation”) en verwydering (“desolation”). Vertroosting is al die dinge in ons lewens wat ons help om beter met onsself, ander, God en die wêreld te konnekteer. Verwydering is al daardie dinge in my lewe wat my gediskonnekteer laat voel.
Aan die een kant is daar dus “moments of consolation”, wat onder andere kom deur keuses te maak wat in lyn is met God se bedoeling met my. Waar ek deur die dag naby aan God gevoel het en eenheid met God, myself en die wêreld ervaar het; gedeeltes van my dag waar ek gevoel het die lewe maak sin en ek ervaar optimale lewe.
Aan die ander kant, is daar dan “moments of desolation” wat onder andere kom deur keuses te maak wat nie in lyn is met God se bedoeling met my nie. Waar ek ver van God gevoel het en verwydering tussen God, myself en die wêreld ervaar het; dele van my dag waar ek gevoel het dat die lewe uit my gesuig word en my doodsheid laat ervaar het.
Hy skryf onder andere: “...revelation is not over, God is constantly revealing Himself in our experience... Of course, the Bible is divine revelation – no one denies that. But so is our life! It is precisely because God is present to life and available to human experience that we have a divinely inspired story to tell, and that the story once told is revelation.”
Ignatius het dagrefleksie gesien as die hoeksteen van die geestelike lewe, in so ‘n mate dat toe die Jesuïete op ‘n stadium gevra het of hulle van hul gebedsoefeninge mag oorslaan as gevolg van hul besige skedule, het Ignatius gesê hulle kan enigiets oorslaan, behalwe die dagrefleksie.
Om oor die dag wat verby is te reflekteer, kan ‘n baie kragtige instrument wees om God se stem in jou lewe te hoor. Dagrefleksie gaan basies oor twee vrae, wat op verskillende maniere aan die einde van elke dag gevra kan word:
· Wanneer vandag het ek optimaal lewendig gevoel?
Wanneer vandag het dit gevoel of lewe uit my gesuig word?
· Wanneer het ek vandag gevoel dat ek een is met myself, ander, God en die wêreld?
Wanneer het dit vir my die minste gevoel of ek behoort?
· Wanneer was ek vandag die gelukkigste?
Wanneer was ek vandag die hartseerste?
Persoonlik verkies ek vrae soos:
· Wanneer vandag het ek optimaal lewendig gevoel?
Wanneer vandag het dit gevoel of lewe uit my gesuig word?
en
· Wanneer het ek vandag die meeste sin en vrede ervaar?Waar is my ervaring van sin en vrede vandag die meeste versteur?
Deur getrou hierdie handeling te doen, verkieslik daagliks vir ‘n aantal maande, kom ek mettertyd agter watter dinge resoneer met my siel en watter dinge moet ek eerder van wegstuur. Terugskouend kan ek dan duidelik sien watter dinge in my lewe laat my optimaal funksioneer en floreer en watter nie. Daar waar ek optimaal funksioneer, leef ek in die vloei van wie God my bedoel het om te wees.
Die intensiewe joernaal
Om ‘n joernaal te hou, is baie anders as ‘n dagboek. ‘n Dagboek is meer van ‘n feitelike weergawe van wat in jou lewe gebeur, terwyl ‘n joernaal meer fokus op interne prosesse. Dikwels sal mense sê dat hulle nie daarvan hou om ‘n joernaal te hou nie, of dat hulle nie groot skrywers is nie. Die joernaal is glad nie gemik op mense wat wel ter tale is nie, maar eerder op mense wat op soek is na ‘n manier om hulle eie gedagtes te verwoord, sonder om met ‘n ander mens daaroor te praat.
As jy ‘n joernaal skryf, is niemand anders se opinie van belang nie en daar is nie ander stemme wat jou voorsê oor wat jy moet voel of nie.
Die narratiewe terapie beskou joernaal hou as ‘n kragtige eksternaliseringshulpmiddel om jou te help om dit wat jy voel, buite jou te kry en objektief te beskou.
Julia Cameron, die skrywer van “The Artist’s Way”, maak ruim gebruik van skryftegnieke soos die “morning papers” om jou daagliks te help om jou kop skoon te kry en meer objektief en duidelik te sien wat in jou lewe gebeur.
Die intensiewe joernaal metode is ‘n tegniek wat grootliks in 1966 aan die Drew Universiteit ontwikkel is en deur Ira Progoff gepopulariseer is. Dit bestaan uit ‘n reeks skryfoefeninge op los lyntjiespapier in ‘n ringlêer. Die lêer is in verskillende seksies verdeel om die skrywer te help om na verskillende areas van sy of haar lewe terug te keer.
Daar word groot waarde aan hierdie werk van Progoff geheg, aangesien dit aan kontemporêre mense ‘n manier gee om die mees ontwykende, mees subjektiewe dele van hulself, te bereik. In 1981, toe Progoff se werk bekend geword het, het hy die volgende gesê: "In Freud's Victorian age, the awful secret that nobody wanted to talk about was sex. Today, the awful secret is spirituality. People today will discuss anything but their inner life." Hy haal Karl Rahner, die Duitse Jesuïtiese teoloog aan: "The theological problem today is the art of drawing religion out of a man, not pumping it into him. The art is to help men become what they really are."
Iemand anders skryf só oor Progoff se werk: "The lack of intimacy with one's self, and consequently with others, is what created the loneliest and most alienated people in the world. Progoff ultimately proves that the process of growth in a human being, the process out of which a person emerges, is essentially an inward process."
Die dialoog
Een van die waardevolste aspekte van Progoff se intensiewe joernaal metode, is die dialoog. Hiervolgens voer jy ‘n dialoog met God of met jou lewe of met een of ander probleem in jou lewe. Jy laat toe dat die saak in God se lig lê en beskou dit eerlik en op ‘n afstand. Jy maak jouself oop vir meer objektiewe stemme en laat toe dat sekere vrae na vore kom. Vrae soos: Waar is jy nou in jou lewe? Hoekom doen jy wat jy doen? As jy so aanhou, wat sal die rigting van jou lewe wees? Die tegniek vra dat jy veral bedag sal wees op emosies en diep innerlike gewaarwordinge en nie net op gedagtes en gebeure nie.
Indien jy ‘n dialoog met God voer, sal die “stem” van God altyd na jou kom as die meer verhelderende, objektiewe, dieptegewende stem, wat daarop uit is om die stand van sake in jou lewe, soos dit werklik is, te beskou. Die “stem van God” is natuurlik nie werklik God se stem nie, maar jy wat dink wat God vir jou sou sê as Hy nou met jou sou kon praat.
Wanneer ‘n mens die intensiewe joernaal gereeld gebruik, kom jy gou agter dat dit soos ‘n sielkundige of geestelike begeleier in jou eie kop funksioneer. ‘n Mens is telkens verbaas oor die effek daarvan op jou innerlike wêreld. Hiermee word natuurlik nie geïmpliseer dat ‘n sielkundige of geestelike begeleier jou nie andersins behulpsaam kan wees nie, maar vir die daaglikse funksionering en hantering van lewenskwessies is die intensiewe joernaal ‘n geweldige kragtige hulpmiddel.
Voordele en nadele
‘n Ander skryfoefening wat van groot waarde is in besluitnemingsprosesse is om die sake waartussen jy moet kies in kolomme neer te skryf en die voordele en nadele daarvan neer te skryf.
As jy dus moet kies tussen X en Y, maak jy kolomme met die volgende opskrifte:
Voordele van X, nadele van X, voordele van Y en nadele van Y.
‘n Ander manier om dit te doen:
· Wat sou gebeur as ek X nie kies nie;
· Wat sou gebeur as ek X kies;
· Wat sou gebeur as ek Y nie kies nie; en
· Wat sou gebeur as ek Y kies.
Deur die situasie so voor my op skrif uitgepak te sien, veral as daar nie een keuse is wat voor die hand liggend beter of slegter is nie, help my amper onmiddellik om te sien in watter rigting ek moet stuur. Ek kan hierdie oefening natuurlik verskeie kere doen, telkens ‘n paar dae uitmekaar, totdat ek duidelikheid gekry het en my lewe self gewys het watter keuse vir my die beter keuse is.
As jy ernstig daaroor is om God se stem in jou lewe te leer hoor, is dagrefleksie (daagliks) en die intensiewe joernaal (weekliks of meer gereeld, as jy die behoefte daaraan het), wat vir drie tot ses maande volgehou word, eenvoudige, maar baie kragtige hulpmiddels. Ek wil jou nooi om sommer vandag met beide hierdie twee eenvoudige, maar baie kragtige hulpmiddels te begin, om jou te help om God se stem in jou lewe te hoor.
Comentarios