top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Om God se stem te hoor: In die vloei van die stroom

Writer's picture: Marina StrydomMarina Strydom

Wanneer aanvaar ‘n mens dat ‘n deur toe is? Of hoe weet jy of jy moet harder veg en die deur probeer oophou of oopmaak, en of jy eerder moet omdraai en wegstap of ‘n ander pad stap na ‘n ander oop deur?

 

Ek wens dit was maklik om hierdie vrae te antwoord, want helaas is daar nie ‘n “one size fits all” oplossing nie. Ek is wel oortuig dat hierdie soort situasies, waar ‘n mens wonder of jy dalk net voor ‘n toe deur moet wag en of jy moet aanhou om aan ‘n toe deur te klop, groot hoeveelhede onderskeiding vra. Daarsonder kan dit gebeur dat jy jou lewe voor ‘n toe deur om wag, terwyl daar ‘n ganse realiteit aan die anderkant daarvan wag.

 

Onderskeiding is natuurlik die maandelange proses waar ek, aan die hand van eenvoudige reflektiewe praktyke, na die stem van my lewe, na die stem van my siel en na die stem van God luister. Om aan die einde van elke dag dagrefleksie te doen en in sulke tye gereeld ‘n intensiewe joernaal te hou, is onontbeerlik (later meer oor hierdie twee “tegnieke”).

 

‘n Onderskeidende proses help ‘n mens om te sien as jy so baie tyd voor ‘n toe deur spandeer het, dat almal anders al weg is en jy vasgeval geraak het in ‘n donker gang. Dit help ‘n mens om te besluit of jy nog ‘n bietjie tyd moet gee en of daar min tot geen lewenspotensiaal agter die toe deur lê en dat jy eintlik dalk besig is om jou een kosbare lewe te verspeel. Ek sê nie dat ‘n mens onmiddellik van ‘n toe deur moet wegdraai nie, maar onderskeiding kan seker maak dat ek nie my lewe daar spandeer nie.

 

Wanneer dit gaan oor verhoudings of geleenthede in my lewe, moet ek versigtig wees om te probeer om die deur oop te forseer. Hoe meer ek dit doen, hoe moeiliker raak dit. Ek is oortuig dat die twee basiese houdings, as dit gaan oor verhoudings, respek en wederkerigheid is. As beide respek en wederkerigheid nie teenwoordig is nie, is daardie verhouding waarskynlik ‘n toe deur, want sonder hierdie twee eienskappe is daar op die lang duur werklik feitlik geen lewenspotensiaal in ‘n verhouding nie.

 

Wanneer dit gaan oor geleenthede, is ek ‘n groot voorstaander van die natuurlike vloei van prosesse. Dit beteken glad nie dat dinge in my skoot gaan val nie. Ons is tog ook medeskeppers van realiteit. Dit beteken dat ek van my kant af moet doen wat gedoen moet word om ‘n sekere soort werklikheid te help realiseer, maar dat ek dan wag en kyk of realiteit op my reageer en daar ‘n sinergie ontstaan tussen dit wat ek bring en die manier hoe realiteit reageer. Ek moet met ander woorde my lyn in die water kry en kyk of die vis byt. Om elke dag my lyn in die water te gooi, sonder dat enige vis na verloop van tyd byt, is om voor ‘n toe deur vas te val. Dit mag wees dat die tyd vir iets nog net nie reg is nie en dat ek later in my lewe wel verby daardie deur stap, of selfs intensioneel daarheen terugkeer en skielik besef dat daar nou potensiaal is waar daar vantevore geen potensiaal was nie.

 

Ek glo in die universele waarheid van Tony Robbins se teorie: “Where attention goes, energy flows”, maar dit beteken nie dat wanneer ek genoeg aandag aan iets of iemand gegee het, sal die deur oopgaan nie. En juis daarom het ek nodig om te leer om nie op ‘n obsessiewe en halsstarrige manier vas te steek nie, maar toe te laat dat daar ‘n dinamiese vloei ontstaan tussen dit wat ek, maar ook God deur realiteit, wil laat realiseer.

 

Om jou een kosbare lewe voor toe deure en hersenskimme te spandeer, is waarskynlik een van die hartseerste dinge. Mag die Here ons help om die tekens te lees, sodat ons in die vloei van die stroom van die lewe kan floreer.




10 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page