top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Om God se stem te hoor: Gekalibreerde ore

Wanneer die seisoen draai en dit begin Lente word, gebeur dit gereeld dat ek voor die voëls wakker is. In die Winter slaap hulle mos laat. Dan lê ek in die donker en luister. Meestal hoor ek net die gedruis van die stad in die verte wat stadig maar seker wakker word. As ‘n mens jou mooi verbeel klink dit amper soos die see. En dan, meteens, hoor ek daardie eerste voëltjies en stadig maar seker sing al meer en meer voëltjies saam in die koor.

 

Om God se stem te hoor, is vir alle gelowige mense belangrik, maar ons weet nie altyd hóé om Sy stem te hoor nie, veral as dit voel of ons deur die harwar van die lewe en die chaos van ons eie koppe en harte ingesluk word. God se stem is bitter selde iets wat van buite af kom. God verkies eintlik maar om van binne myself af met my te praat, maar daarvoor het ek nodig dat my hart en die ore van my hart gekalibreer is om God se stem te kan hoor.

 

Een van die maniere om die ore van my hart te kalibreer, sodat ek God se stem makliker kan hoor, is om intensioneel tyd in die natuur te spandeer. Ek hoor nie noodwendig dadelik God se stem in die natuur nie. Dit is eerder dat die natuur my hart gereed maak om wel ontvanklik te wees om God se stem te hoor. In hierdie opsig het die natuur dieselfde effek op die ore van my hart, as wat marinade op vleis het. Dit is amper asof tyd in die natuur die taai senings van my siel sag maak, sodat ek meer ontvanklik is om God se stem te hoor.

 

Iewers skryf Henry David Thoreau: "Whoever God is, I'm pretty sure I know Him better out here in the quiet than I would through any ranting sermon. Maybe God is speaking to me in the small voice of the jumping fish and the rustling leaves, the still pond and the stars beginning to peek through the trees. Maybe I hear God when my heart is still and I can listen with my very smallest inner ear. Maybe..."

 

Dit beteken nie dat ek noodwendig baie moeite moet doen om berge of bosse of see of woestyn of vlaktes toe te gaan nie – alhoewel dit natuurlik ideaal sal wees. Om ‘n paar minute op ‘n slag stil te sit en te kyk hoe die son opkom of sak, hoe die voëls in die boom baljaar, hoe die wind deur die blare ritsel, met my vingers in die grond vroetel, vir visse in ‘n dam kyk, sien hoe die water in ‘n fontein dans of sommer net vir ‘n paar minute soos ‘n dassie in die son te sit en bak, kan alreeds baie help. Ek vermoed ons almal verlang op ‘n diep vlak na die natuur, omdat ons siele instinktief weet dat as ons die stem van die natuur kan hoor, is God se stem die volgende ding wat my hart sal hoor.

 




Deon Loots skryf onlangs hierdie aangrypende stuk oor die verband tussen die stem van die natuur en God se stem:

 

“Stilte in die Karoo” – Deon Loots

 

Mense sê: dis so stil dat mens die stilte kan hoor.

Wat beteken dit om die stilte te hoor?

Is daar dan net niks wat gehoor word nie?

Nee glad nie! Dis wanneer die geraas van die stad uitgedoof word

en jy begin om regtig te hoor...

Hoor die geroep van die bokmakierie, suiwer en helder;

die lied van die blou Kraanvoëls in hulle verbyvlug;

die lustige gesels van die Europese streepswaels op die voorstoep;

die Kransvalkies wat met 'n skril geroep hulle terrein afbaken;

die Suikerbekkies wat hulle koppies agteroor gooi en uit volle bors sing om seker te maak die Skepper hoor hulle loflied;

die vrolike gekwetter van die mossies;

die bronstige gebrom van die bosduiwe;

en die tortelduiwe sing die lied van hul lewensdroom

saam met baie ander voëls wat die hele dag vrolik lof uitjubel.

Nou en dan die effense wanklank van die Hadeda

en rou gekras van die kraaie;

die paddakoor as die son sak;

die veraf gehuil van die jakkals in die nag;

die helder, amper onheilspellende ge hoe-hoe van die uile

en kriekies wat skril skree;

die pragtige melodieuse gesing van die naguiltjie;

die bobbejaan mannetjie wat vroeg sy besoek met 'n harde geblaf aankondig;

die skielike harde geblaas van die Bergskilpad wat jou laat wip van skrik;

die weemoedige geskree van die sonbesies

en dan daardie Stem:

die Stem wat besonder duidelik binne dit alles opklink –

Jy is my geliefde kind, Ek verlustig my in jou.

Alles rondom word swanger van daardie Stem.

Die Stem wat bemoedig, versterk, lei, raad gee, wysheid deel

en sy lied deur die hele skepping sing!

9 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page