Toe jy klein was en iemand het vir jou gevra wat jy eendag wil word, het jy dalk met die mees indrukwekkende antwoorde vorendag gekom. Dikwels, as ‘n mens terugkyk na wat jy aanvanklik met jou lewe wou doen, was dit bewonderenswaardig, maar ook soms lagwekkend of selfs grotesk en in baie van ons se geval nie baie realisties nie. Die dilemma is dikwels dat ons meermale belangrike besluite neem oor wat ons met ons lewens wil doen op grond van ander mense se idees of op grond van eksterne ideale wat ons uit ons wêreld neem, wat nie regtig diep uit onsself uit kom nie.
Ons is geneig om by ander mense te gaan uitvind wie ons veronderstel is om te wees en watter waarhede ons ten diepste moet leef. As gelowige mens, is my diepste waarheid veronderstel om mettertyd so diep in my murg te kom lê, dat daardie interne stem en God se stem onlosmaaklik verweef word. Die dilemma is natuurlik as ek myself sien as sleg en sondig en fundamenteel gebroke. Dan gaan ek nie na my eie stem luister nie, want ek gaan dit nie vertrou nie. En dan gaan ek juis soek na gesaghebbende ander stemme om namens my te besluit wat met my moet gebeur.
Al is hierdie besluit van wie ek glo ek moet wees, hoe edel, as dit nie werklik kom uit wie ek is nie, sal dit geforseerd wees en sal ek stelselmatig by ‘n plek kom waar ek sukkel om dit uit te leef, omdat dit al meer uit pas is met wie ek fundamenteel is.
Hieroor skryf Parker Palmer aangrypend: “Before you tell your life what you intend to do with it, listen to what it intends to do with you. Before you tell your life what truths and values you have decided to live up to, let your life tell you what truths you embody, what values you represent.”
As jy luister na jou lewe, watter tekens lees jy daar?
As jou interne leermeester nou iets kan sê oor wat jou diepste waarhede is, wat sal dit wees?
As jy dink watter dinge die lewe soos borrels deur jou are laat bruis, wat is dit?
Om te leer om fyn te luister na my lewe en te probeer hoor wat my lewe vir my sê oor wie ek is, is ‘n fyn kuns. Wanneer ons besef dat die interne leermeester aan die praat is, moet ons luister na wat daardie stem sê en moet ons notas neem, want anders vergeet ons vinnig ons diepste waarheid en ontken selfs dat ons dit ooit gehoor het.
Daar is ‘n enorme gaping tussen die blink en indrukwekkende dinge waarmee my ego graag sal wil identifiseer en wie ek ten diepste bedoel is om te wees.
As ek nie iewers hierdie verskil begin raaksien nie, is daar ‘n uiters goeie kans dat ek iewers in my lewe gaan vasval of vasdraai in ‘n groef van ontevredenheid en ontnugtering en die prys gaan betaal van die onbeantwoorde roep van my siel.
Dit neem tyd en ervaring om agtertekom dat daar onder dit wat ek “my lewe” noem, iets dieper aan die gebeur is wat méér waar en méér eg is en wat wag om erken te word.
As ons sou aanneem dat ons elkeen ‘n interne leermeester het en dat God se Gees deur daardie interne leermeester met ons wil praat, wat sou daardie interne leermeester besig wees om al duideliker hoorbaar en meer aanhoudend vir jou te sê? Is jy bereid om te luister? Wat sal dit van jou vra om te luister?
Comments