Een van Parker Palmer se sleutelbeginsels vir ‘n lewe van onderskeiding, is om te leer wat die toe deure in ons lewe aan ons wil kommunikeer. Het jy al daaroor gedink dat die Here ‘n mens amper net soveel lei deur die deure wat toegaan of toe bly, as deur die deure wat oopgaan? Soms gaan ‘n deur vanself toe – een oggend staan jy net op en jy besef, sonder dat jy dit eers regtig agtergekom het – dat ‘n deur toegegaan het. Soms word ‘n deur in ‘n mens se gesig toegeklap en jy het nie veel beheer daaroor nie. Ander kere doen jy alles in jou vermoë om te keer dat ‘n deur toegaan, maar die poging is einde ten laaste, futiel.
Dit is nie so maklik om weg te draai van ‘n toe deur af nie. Dit is meestal doodgewoon pynlik, of ten minste uiters ongemaklik. Baie van ons staan eers vir ‘n tyd lank op die deur en hamer. Ander van ons tuur vir maande of jare deur die sleutelgat om iets te probeer behou van wat agter die toe deur lê. Maar iewers moet ons elkeen besef dat wanneer ek wel wegdraai van die toe deur af, lê daar ‘n hele ander realiteit en wag, waarvan ek vroeër nie eers bewus was nie.
Kyk hoe mooi beskryf Palmer dit: “My anxiety about way not opening, the anxiety that kept me pounding on closed doors, almost prevented me from seeing the secret hidden in plain sight: I was already standing on the ground of my new life, ready to take the next step on my journey, if only I would turn around and see the landscape that lay before me. We must take the no of the way that closes and find the guidance it has to offer – and take the yes of the way that opens and respond with the yes of our lives.”
Die geslote deure van ons lewens is ook heilige grond, juis omdat dit ons geen ander keuse gee as om oop te wees vir ander alternatiewe waardeur God ons wil ontmoet nie. Is daar dalk op die oomblik in jou lewe ‘n toe deur waardeur die Here met jou sou wou praat?
Comments