Een van die maniere waarop ons God se stem kan hoor en waarmee die meeste van ons nie so vertroud is nie, is die stem van my eie lewe. Dalk het dit iets daarmee te doen dat ons om een of ander rede dink dat dit wat in my lewe gebeur en dit waarmee God met my besig is, niks met mekaar te doen het nie. Hoe verkeerd kan ‘n mens tog wees!
Om fyn te luister na die stem van my lewe, is ‘n uiters noodsaaklike deel van om met onderskeiding te leef en al meer God se stem te hoor. Om na die stem van my lewe te luister, is ‘n organiese proses wat my wil help om soos ‘n plant in ‘n sekere rigting te groei.
My lewe praat beslis nie net met woorde en begrippe nie, maar ook deur my aksies en reaksies, deur my intuïsie en instink, deur my ervarings van mense en gebeure, deur my emosies en deur hoe dit met my lyf gaan.
Parker Palmer beskryf dit so: “We are like plants, full of tropisms that draw us toward certain experiences and repel us from others. If we can learn to read our own responses to our own experience – a text we are writing unconsciously every day we spend on earth – we will receive the guidance we need to live more authentic lives.”
As ek bereid is om te luister na die mooi dinge wat my lewe vir my sê en waaroor ek graag sal wil praat, moet ek ook bereid wees om te luister na daardie dinge wat ek eintlik nie wil hoor nie en waaroor ek nie so graag sal wil praat nie.
Die mooi dinge sou goeie ervarings van die lewe en verhoudings, suksesse, gawes en sterkpunte insluit. Maar ek is nie altyd so bereid om te leer by die beperkings, foute, tekortkomings, skadu’s en mislukkings van my lewe nie.
Waarom is dit belangrik?
Behalwe dat dit my ‘n voller, heler en nederiger mens maak om so na myself te kyk, is daar geen manier dat ek ‘n klomp goed oor myself en oor God se pad vir my lewe sou leer, sonder die foute wat ek gemaak het nie. Richard Rohr sê altyd: “We learn much more by doing it wrong than by doing it right.” Of: “A mistake that makes you humble is better than an achievement that makes you arrogant.”
Dalk is een van die redes waarom ons as gelowige mense nie met dieper onderskeiding en sin in ons lewe leef nie, omdat ons nie genoeg erns maak met die volle stem van ons lewens nie. ‘n Ruk gelede vra ‘n vriendin vir my: “Wat het jy uit die vorige soortgelyke ervaring geleer, wat jou nou kan help?” Ek kon haar nie antwoord nie, want in alle eerlikheid was die vorige soortgelyke rondte so moeilik en pynlik, dat ek dit net so vinnig as moontlik agter my wou sit en aangaan. Dit is nie baie wys nie! En tog doen ons dit aanhoudend. Ons leer nie om die stem van ons lewe te hoor nie, omdat ons daardie stem se mond so vinnig as moontlik toedruk en maak of ons dit nie gehoor het nie!
As jy vandag met die ganse inhoud van jou lewe sou gaan sit en jy kyk na alles wat mooi is en waarvoor jy dankbaar is, maar ook na die dowwe of donker kolle in jou lewe wat jou laat struikel en eintlik op ‘n baie diep vlak jou aandag wil trek, wat sou die volle verhaal van jou lewe op hierdie stadium vir jou wil sê? Wat sou die dieper uitnodiging van God in jou lewe kon wees?

Comentários