Die afgelope paar weke het ek ‘n paar inspirerende Japanese konsepte besoek en stilgestaan by die waarde wat dit vir ons as gelowiges het. Daar is nog heelwat ander, waarby ons dalk op ‘n later stadium sal uitkom. Die laaste een is is die Japanese kunsvorm “kintsukuroi”.
“Kintsukuroi” is die kunsvorm waar gebreekte erdeware herstel word deur die gom met goud te meng. Die breek en herstel van die voorwerp word gewoon gesien as deel van die objek se verhaal en nie iets wat weggesteek moet word nie, maar juis uitgelig moet word.
Die Japanese leef met hierdie merkwaardige filosofie dat hulle die beskadigde of die nie-perfekte omarm. Volgens hul estetika het ’n objek nog meer waarde as voorheen as dit gebreek en met “kintsukuroi” herstel is. Die gebrokenheid van die objek word beklemtoon as net nog ’n gebeurtenis in die lewe van die objek en dat hierdie gebeure wat dit gebroke gelaat het, meer waarde daaraan gee, want as dit nie gebreek het nie, was daar geen plek vir die goud wat tydens die proses van “kintsukuroi” ingevoeg word nie. Dit gee nuwe betekenis aan die gedagte dat die som van die dele meer werd is as die geheel!
As mens so daaraan dink verander alles. Voorheen, as die bak op die grond geval het, het jy dit opgevee, gesê “Useless!” en dit in die asblik gegooi. Nou maak jy seker dat jy elke stukkie versigtig optel, draai dit in ’n sagte lap toe en vat dit vol hoop en met sorg na die kunstenaar vir herstel en wag met afwagting dat dit terugkom sodat jy dit met trots kan uitstal waar almal dit kan sien.
Iemand skryf as volg hieroor: “Not only is there no attempt to hide the damage, but the repair is literally illuminated… The vicissitudes of existence over time, to which all humans are susceptible, could not be clearer than in the breaks, and the shattering to which ceramic ware too is subject.”
Wat ’n ongelooflike gedagte: die stampe en stote van die lewe, die krisisse en swaarkry wat ons van tyd tot tyd moet verduur, selfs dalk daardie dinge in ons lewe wat menslik gesproke die potensiaal het om ons heeltemal te breek, hoef nie die laaste sê oor ons te hê nie!
Soos jy, het ek al soveel kere in my lewe voor situasies gestaan wat totaal vasgeloop voel, in my eie en ander se lewe. Dit is in sulke oomblikke dat ‘n mens wens God is net so klein bietjie meer van ‘n Towenaar en dat Hy tog net op ‘n manier sy vinger sal klap sodat dinge in ‘n ander rigting kan stuur. Maar God werk selde so. God werk eerder met stadige, deeglike, diepgaande lewensprosesse wat, indien ons Hom toelaat, die volheid van die situasie ontgin.
God is veel eerder soos die goud prospekteerder wat geduldig in ‘n oorwerkte stroom sit met ‘n sif en tussen al die klippe op soek is na die korrels goud wat tog daar is en waarmee hy ‘n ander plan het. God kyk nie net in die klippe vas nie, maar sien die potensiaal van die klein bietjie goud en gebruik dit saam met die gebrokenheid van ons lewe om selfs in die mees gebroke of oorweldigende kontekste iets van groter waarde te skep.
In God se hande word die gebroke stukke van ons lewens iets met die ongelooflikste potensiaal, want God is die een na wie die oorsprong van die kuns van “kintsukuroi” herlei moet word. God is die een wat die gebroke stukke met die kosbaarste goud weer aanmekaarvoeg sodat ons nog meer waarde het as voorheen, juis as gevolg van ons gebrokenheid.
Mag “kintsukuroi” jou help raak te sien dat jou eie gebrokenheid en proses van herstel, in die hande van ‘n Kunstenaar, jou lewe verhef tot iets van selfs nog meer waarde. Vertrou Hom met die proses…
©️ Marina vd Linde 2023


Comentários