So elke nou en dan sal mense vir my vra waarom dit nou juis nodig is dat hulle as gelowige mense besig moet wees met ‘n pad van transformasie. Is dit nie goed genoeg om maar net in God te glo en dit te weet en dan maar net aan te gaan met jou lewe nie? Hoekom moet jy nou so bewus wees van jouself, jou gedrag en jou ongesonde geneigdhede?
Natuurlik kan jy maar net aankarring. ‘n Mens kan regtig wees net wie jy wil wees. Maar die keuse van wie ek wil wees bepaal direk my en al die mense in my lewe se realiteit.
Wanneer God sê “Wees heilig, want Ek is heilig”, bedoel Hy waarskynlik nie dat ek perfek moet word of dat ek God moet word nie. Ek kan natuurlik nie God word nie, maar ek kan al meer soos die beeld van God word. Om heilig te word beteken dus veel meer dat ek in lyn sal kom met God se oorspronklike bedoeling met my. Heilig wees beteken om die beste, gesondste en mooiste weergawe van myself te word, want wanneer dit gebeur begin ek in lyn kom met God se droom vir my en die wêreld. En dalk is dit ook wat dit beteken om na die beeld van God geskep te wees. God het elemente van Homself in elkeen van ons geplaas, en hoe heiliger ek word; hoe meer ek word wie ek veronderstel is om te wees; hoe makliker is dit om die beeld van God in en deur my te sien.
In die wiskunde van die siel werk dit min of meer so:
‘n Minus + ‘n minus = hel – ‘n ongesonde mens plus ‘n ongesonde mens skep ‘n aaklige en onleefbare realiteit.
‘n Minus + ‘n plus = hel – ‘n ongesonde mens plus ‘n mens wat besig is om ‘n gesonde of beter weergawe van hulself te word, skep steeds ‘n uiters moeilike manier van bestaan.
Slegs ‘n plus + ‘n plus = hemel – daar waar twee mense beide oop is en besig is met God se proses van transformasie word ‘n leefbare realiteit geskep waarbinne ons kan floreer, asemhaal en lewe.
(Met hemel en hel bedoel ek natuurlik die soort realiteit wat ek deur my menswees vir ander en myself skep.)
So, natuurlik kan jy maar net onbewustelik voortleef, maar ‘n mens gaan nie vanself in die beste weergawe van jouself verander nie. Ons mense se natuurlike geneigdheid trek na die meer gebroke kant van onsself. Deel van ons “default”- storie is maar nog steeds Adam en Eva en daardie dag in die paradys. En daarom roep God ons aanhoudend in die rigting van die Kruis – ‘n pad van transformasie.
Comments