In Matteus 3:8 sê Johannes vir die Fariseërs om eerder vrug te dra wat by die bekering pas. Waarna sou hy verwys? Natuurlik wil ons dadelik tekste soos Galasiërs 5 nader trek en sê: liefde, vreugde, vrede, geduld en so meer. Maar ek vermoed dis nie heeltemal so eenvoudig nie.
Net soos ‘n mens nie ‘n “one size fits all” bekering kry nie, kry mens ook nie ‘n generiese vrug van bekering wat maar sommer net vir almal dieselfde lyk nie. Die vrug van my bekering is die resultaat van God se diepliggende prosesse in alle aspekte van my lewe. Natuurlik is daar die mees algemene vrug waarmee God se Gees in alle gelowiges se lewe besig is, maar dit gebeur nie op ‘n algemene manier nie. Trouens gebeur dit op ‘n heel persoonlike manier.
Dit is juis hierdie baie persoonlike aard van ons voortdurende bekering wat maak dat die vrug daarvan ook baie persoonlik is en in elkeen van ons anders lyk. Die gevolg is dat eers my hart of die sentrum van my wese verander en dan begin my manier van dink verander, wat uiteindelik uitkom in hoe ek praat en optree en die vrug van die bekering word. Daarom is die vraag: wat is dit wat in my tot bekering moet kom en wat sou die vrug daarvan kon wees?
Sommige van ons moet tot bekering kom van ons kritiese aard, sodat ons mense realisties kan sien en hulle goeie dinge óók kan waardeer.
Ander van ons moet tot bekering kom van ons “people pleasing” en ons geneigdheid om vir alles ja te sê, met die gevolg dat ek mense teleurstel met leë beloftes en myself ooreis, sodat ek meer eg kan word en meer optimaal kan word wie ek kan wees.
Nog iemand moet tot bekering kom van die vrees om te sê wat jou pla, sodat jy nie vir maande – of selfs jare - dinge opbottel en deur jou stilswye onleefbare kontekste help skep nie.
Die voorbeelde is letterlik eindeloos.
Baie van hierdie patrone waarvan ons tot bekering moet kom is oor dekades vasgelê en so diep in ons psigiese strukture ingebed dat ons dit nog nie eers raaksien nie. So waar begin ek? Deur eerlik te wees. Eerlik te wees met myself oor wat ek sien in myself en dan eerlik te wees met God oor die effek wat dit het.
Net soos ons bekering, is die vrug van ons bekering hoogs persoonlik. Die goeie nuus is dat dit God se werk is in my. Ek kan net meegee aan dit wat God in my wil doen.
Ek gaan waarskynlik elke dag sukkel hiermee. Soms minder en soms meer. En as gister ‘n ramp was, begin ek net vandag weer.
Mag ons elke dag toelaat dat God met ons besig bly, ons aanhoudend tot bekering bring en stadig maar seker die vrug van ons bekering in ons lewe laat deurwerk.
Komentáře