Wanneer ‘n mens in ons wêreld praat oor kwesbaarheid kan ‘n mens omtrent sien hoe mense ineenkrimp. Daar is niemand van ons wat daarvan hou om aan ons kwesbaarheid herinner te word nie. Om die waarheid te sê sal ons alles in ons vermoë doen om daarvan weg te skram. Maar die ironie is dat nie een van ons nie tog geweldig kwesbaar is nie, al probeer ons onsself en ander hoe hard van die teendeel oortuig.
Daar is baie maniere waarop ons onsself teen ons inherente kwesbaarheid beskerm. Sommige van ons sorg dat ons so besig as moontlik bly. Ander van ons “drug” ons interne kwesbaarheid op allerhande maniere. In die afgelope week was daar weer baie opslae oor die welvaartsteologie in ons Suid-Afrikaanse geledere – dit is nog ‘n manier om ons teen kwesbaarheid te beskerm: deur God te gebruik as die besweerder teen broosheid en gebrokenheid. Daar is ook die wat hul kwesbaarheid uitstal en dan as slagoffers en martelaars optree, maar eintlik die diepste kwesbaarheid wat na heelheid lei, vermy.
Ironies genoeg is dit juis goeie kerkmense wat onder geen omstandighede hulle egte kwesbaarheid sal wys nie. Richard Rohr skryf in “Dancing Standing Still”:
“Religion is for those who fear hell …. whether that be some notion of eternal damnation, financial ruin, making moral mistakes, earthly tragedy and accident … you name it. Basically, religion placates, and enables, fearful living. As if we can somehow avoid all of the above on the journey of life.
Spirituality, on the other hand, is for those who have gone, or are going through, hell. People who have experienced profound suffering – physically, mentally, socially and even religiously. Spirituality is for those who are aware of their own poverty, who have failed time and time again, who know their sin, who struggle honestly in the truth of their brokenness – materially and internally.”
Daar is verskeie redes waarom ons van kwesbaarheid wegskram, onder andere omdat dit ons blootgestel laat voel en omdat dit maak dat ons en ander besef ons is toe nie so onaantasbaar en sterk soos ons gedink het nie.
Die dilemma is glad nie dat ons kwesbaar is nie, maar juis dat ons so hard as moontlik probeer voorgee dat ons nie kwesbaar is nie. Om weg te skram van kwesbaarheid af is die mees normale reaksie vir enige mens met ‘n ego.
Om kwesbaarheid op ‘n gesonde manier deel van jou lewe te maak is een van die dapperste dinge wat ‘n mens in jou lewe kan doen, en dit kom vir niemand vanself of maklik nie.
Ernst van Heerden se gedig Musiek is vir my nog altyd een van die beste uitbeeldings van egte, helende kwesbaarheid:
Aan hierdie hart se tenger kelkhet U getik en fynuitdeinend sing die glassy melodie van pyn.
U lê 'n vinger op die randwat skrynend, weerloos tril,en skielik word my hartse fyne smartsang stil.
Wat is dit wat jou vandag kwesbaar laat voel?
Ek wil jou nooi om nie vandag weg te skram van jou diepste interne kwesbaarheid nie, maar om iewers daarmee te gaan sit, die interne ongemak daarvan te voel en niks daarmee te probeer doen nie – nie daarvan te probeer ontslae raak nie – maar net toe te laat dat God jou in dit ontmoet.
©️ Marina vd Linde 2024
Comments