
Ons almal was al aan die ontvangkant van iemand anders se skerp kant. Woorde wat deur jou hart sny. Gedrag wat seermaak. Ongesonde maniere van optree wat jou en die verhouding skade berokken. Maar soms besef ‘n mens nie dat ekself meermale (dalk te veel) die een is wat daardie gedrag uitdeel nie. Ek kan sonder dat ek dit besef ‘n skrikbewind voer.
‘n Belangrike deel van spirituele transformasie is om te leer om myself raak te sien. Om my eie manier van praat en doen werklik te begin raaksien en te sien wat die soms skadelike effek is wat ek op ander mense het. My verhouding met God gaan nie in die eerste plek daaroor om my te laat beter voel oor myself nie, maar dit gaan daaroor dat ek sal wees wie God my bedoel het om te wees, deur sodoende ‘n kanaal van sy liefde en teenwoordigheid te wees. Deur die “dinge van die Gees” deur my te laat vloei.
Dit kan nie gebeur as ek nie op ‘n manier praat en optree wat die vloei van die Gees deur my moontlik maak nie. As ek met ‘n atmosfeer vol dorings leef en die mense in my lewe verstoot en op klein, feitlik onsigbare maniere eintlik aftakel en sleg behandel, inhibeer ek die vloei van die Gees. Daarom is Robert Mulholland se woorde iets wat ons maar moet memoriseer en oor en oor vir onsself moet sê: “Spiritual Formation is the process of being conformed to the image of Christ for the sake of others”.
Wanneer ek sukkel om myself raak te sien - en niemand van ons kry dit heeltemal goed reg nie - het ek iemand in my lewe nodig wat dit op ‘n eerlike en liefdevolle manier vir my sal sê. Ons dink mos soms die mense in ons lewe sien nie as ons goorgat of mislik of byterig is nie. Ons is verkeerd! Hulle sien – en voel – en dit is sleg.
Ideaal gesproke moet ek, as ‘n mens wat geestelik en emosioneel al meer volwasse word, meer en meer self-regulerend word. Ek moet myself raaksien, en my optrede in die kiem smoor voor dit by my mense kan uitkom.
‘n Tegniek wat my baie kan help is die volgende:
Raak bewus, Identifiseer en Laat gaan
Raak bewus van my gedrag, herken dit en sien dit raak.
Identifiseer presies wat ek doen en waarom (verstaan my diepste motiewe).
Laat gaan die behoefte van my ego om so op te tree en word deur hierdie proses van sterf aan die agenda van my ego getransformeer.
My bui, gemoedstoestand en eksterne en interne uitdagings kan nie voortdurend die verskoning wees vir my optrede nie.
En as jy wel aan die ontvangkant van iemand se ongesonde gedrag en pynlike woorde is? Sê dit maar eerder, want as jy dit nie doen nie “you get what you tolerate”.
Om ‘n gesonde mens te wees begin by ‘n eenvoudige gebed: “Help my om myself te sien, Here.”
Commentaires