Een van die kragtigste maniere om jouself oop te stel vir die werk van God se Gees, is om te vergewe, nie net ander mense nie, maar ook jouself.
Daar is soveel dinge waarvoor ons nodig het om onsself te vergewe. Dalk vir ‘n enorme dom fout wat ek iewers in my lewe gemaak, dalk vir ‘n verkeerde keuse wat my lewe in ‘n sekere rigting gestuur het, dalk vir iets wat ek iemand anders aangedoen het of iets wat ek aan myself gedoen wat geweldige gevolge gehad het. Om myself te vergewe is een van ons grootste lewenstake, want daarsonder sal ons nie sommer heel word nie.
Ons mense se natuurlike geneigdheid is dikwels om die skuld vir wat in ons lewe skeefgeloop het by ‘n ander party te gaan soek. Ons is meesters in blamering en sondebokke soek. Dit is baie makliker om iemand te hê wie jy kan blameer en om ‘n rede te hê waarom jy ‘n martelaar of ‘n slagoffer kan wees. Want as ek nie iemand anders blameer nie, beteken dit ek moet na myself in die spieël kyk en dit is dikwels vir ons net te pynlik.
Ongelukkig sal ek nie sommer heel word as ek nie leer om my eie aandeel aan die gebrokenheid in my lewe te erken en myself te vergewe nie. Om te erken wat my aandeel was is regtig moeilik, maar geweldig bevrydend, want dit maak my vry van die tronk waarin ek die ander persoon en myself toegesluit het. Daarvoor moet ek
die inherente ongesonde gedrag in myself raaksien, daarmee gaan sit en vra: “Watter ongesonde maniere van wees het daartoe bygedra dat ek hier beland het.”
Dalk is jy geneig om mense te “enable” of in staat te stel om onverantwoordelik op te tree, omdat jy te veel verantwoordelikheid neem. Dalk gebruik jy mense vir jou eie agendas en maak dat hulle wantrouig is oor jou en misbruik voel deur jou. Dalk is jy te suinig met jouself en verwag baie van ander, maar gee min van jouself. Dalk het jy uiters ongesonde grense en laat toe dat mense jou gebruik, misbruik en vertrap en kan dan nie verstaan waarom mense nie vir jou respek het nie. Of miskien skram jy weg van moeilike gesprekke en konflik en voel jy sal maar situasies verdra en nie aanspreek nie, maar dit word erger en erger tot jou lewe uiteindelik onuithoudbaar voel.
Om hierdie dinge aan jouself te erken is bitter sleg, maar eers as ek my inherente ongesondheid of gebrokenheid in die gesig gestaar het, kan ek vir myself verantwoordelikheid neem en nie meer die martelaar of slagoffer van my eie storie wees nie, ook nie ander blameer en beskuldig nie, maar verantwoordelikheid neem, gesond word van my eie ongesonde geneigdhede en myself vergewe.
In Johannes 8 lees ons van die vrou wat op owerspel betrap is. (Ek is altyd verbyster oor hoe sy owerspel so op haar eie reggekry het, want die man is nêrens in sig nie!) Jesus spreek haar vry en sê dat sy moet gaan en nie meer sondig nie. Ons neem sommer aan dat Jesus vir haar sou sê om op te hou om ‘n "slegte vrou” te wees. Dalk bedoel hy iets anders, soos dat sy moet ophou om die dinge te doen of toe te laat wat maak dat ander haar as ‘n gebruiksartikel sien…!
Ek lees iewers Audrey Kitching se woorde: “Forgive yourself for not knowing better at the time. Forgive yourself for giving away your power. Forgive yourself for past behaviours. Forgive yourself for the survival patterns and traits you picked up while enduring trauma. Forgive yourself for being who you needed to be.”
En dan net daar Maya Angelou se wysheid: “Forgive yourself for not knowing what you didn't know before you learned it.” En "Do the best you can until you know better. Then when you know better, do better."
Mag jy die moed hê om jouself in die spieël te kyk sodat jy net eers jouself kan vergewe.
Komentarze