Een van ons mees komplekse verhoudings is ons verhouding met tyd. Daar is diegene met genoeg of te veel tyd, maar daar is te veel van ons wat voel dat amper al ons tyd deur werk en verantwoordelikhede opgeneem word. Baie van ons sê dat ons nie tyd kry om te lewe nie.
‘n Derde – en dikwels meer – van ons lewe word deur werk in beslag geneem. Daarby het ons omtrent nog ‘n derde van ons lewe nodig om te slaap en te herstel van ons werk. Wat ons natuurlik nie met veel tyd los om net mee te lewe. En dan probeer ons hierdie laaste stuk so vol as moontlik stop.
Ek is baie lief vir die verhaal oor Marta en Maria in Lukas 10:38-42. Marta kry na my mening te veel negatiewe publisiteit, asof Maria meer geestelik as sy is. Dit is duidelik dat Jesus net so lief is vir Marta en dat sy net so lief was vir Jesus as Maria. In daardie konteks het sy gemeen sy gebruik haar tyd die beste deur hard te werk en haar prioriteite is reg want hier sit sy met ’n huis vol gaste. Maar Jesus sê: “Nee, kyk mooi. Ons tyd en prioriteite moenie altyd bepaal word deur die voor die hand liggende dinge nie.” Soms moet ons juis ons tyd en prioriteite aanpas omdat daar iets belangriker is wat ons aandag vra.
Om te weet wanneer om te werk en om te weet wanneer om my aandag na God te skuif. Dit is die les wat Marta moes leer en ook waaroor bewustelikheid gaan. Om met God se oë na die lewe te kyk en al meer volgens God se agenda my tyd en prioriteite in te rig.
Daarom is gereelde sabbatstyd (24-uur per week waar my siel, hart, kop en lyf kans kry om te rus) so belangrik: dit forseer my om te reflekteer oor waarmee ek nou eintlik besig is, myself te posisioneer in terme van my tyd en prioriteite en myself te heroriënteer oor hoe ek my lewe in die volgende week of maand kan leef.
Archibald Hart skryf oor die belang van hierdie tye waar ek op ander dinge as werk fokus: “People in a hurry never have time for recovery. Their minds have little time to meditate and pray so that problems can be put in perspective. In short, people in our age are showing signs of physiological disintegration because we are living at a pace that is too fast for our bodies.”
Skuldgevoelens oor hoe ‘n mens jou lewe leef help niks nie. Wat dalk eerder nodig is, is ‘n diep en ernstige kyk na die aard van my lewe en die effek daarvan op my, en glo my; “the struggle is real”. Wanneer ons begin om vanuit ‘n dieper plek te funksioneer, word ons stelselmatig mense wat ook in ons gewone dagtake leer om al meer op God se frekwensie ingestel te wees. Mense wat weet wanneer om my aandag weg te skuif van my werk en wanneer om my fokus op God se dinge te plaas, soos Maria in Lukas 10.
Daar is twee pertinente plekke in Johannes waar Jesus sê hy het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie maar om die wêreld te red. Ons dink altyd dat hierdie redding net gaan oor die ewige lewe, maar dit gaan ook oor die huidige lewe. Mag jy toelaat dat die Here jou ook red in jou delikate verhouding met jou tyd.
Comments