Een van die tekste wat my altyd aanspreek in die proses van selfondersoek en verootmoediging is Psalm 139: 23 & 24: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”
Vir sommige van ons is dit maklik om te vertrou dat God hierdie proses sal doen as ek so vra, maar ander van ons wil weet presies hoe deurgrond God dan my hart. Hoe wys God daardie dinge in my lewe uit waarvan ek nie bewus is of selfs bewus wil wees nie?
Die antwoord lê maar altyd in die onopgesmukte detail van my lewe: Die manier hoe mense op my reageer. Die gedrag wat ek by myself waarneem. My gewete wat my aankla, maar wat ek dikwels kies om te omseil. Houdings of oortuigings of problematiese verhoudings in my lewe wat ek weet ek moet aanspreek maar kies om te vermy.
Een van die fynste maniere wat verhoed dat ek my laat deurgrond, of wat verhoed dat ek my op die regte pad laat lei is fyn leuens of subtiele wanpersepsies wat ek aan myself opdis, juis omdat ek nie die werklikheid oor iets in my lewe in die gesig wil staar nie. Baie van ons skram maar liewer weg van die waarheid, want ons is heimlik bang vir wat ons mag agterkom.
’n Paar jaar gelede merk ek in my kantoor ’n klompie miertjies op die tafel op. Aanvanklik het dit my nie vreeslik gepla nie. Op daardie stadium het ek nie gereeld die kantoor gebruik nie. ’n Ruk later sien ek egter dat daar heelwat meer miere is en sien toe hoe hulle die laaste leksel water onder in ’n glas opslurp. So maak ek myself toe wys dat hulle eintlik maar net agter die water aan is. Toe ek ’n week of wat later ’n klompie miere onder ’n stapel papiere gewaar, moes ek geweet het hier’s ’n probleem, maar nog steeds kyk ek verby die redelike ooglopende rede. Uiteindelik kom ek toe op ’n dag in die kantoor en besef dat hier nou werklik ’n probleem is. Daar is oral miere. Ek kon dit nie meer ontken nie: iewers is daar iets waar agter ’n groot klomp miere aan is... en so ontdek ek dit toe: ’n enorme mier-spanpoging besig om ’n klein sakkie in ‘n laai met ’n paar vergete soet springmielies van alle kante af by te dam. Asof dit nie erg genoeg is nie, ontdek ek boonop dat die miere onder die einste pak papiere ned gemaak het – eiers en al! Skielik is dit ’n yslike probleem! Dit het my ‘n hele ruk besig gehou om van die arme miere ontslae te raak, maar ek kon nie meer die werklikheid ignoreer of die realiteit ontken nie.
So werk dit dikwels in ‘n mens lewe. Jy bid: “Deurgrond my, Here, ondersoek my...“ Maar aan die agterkant van jou interne skerms probeer jy jou eerder blind hou vir dit wat God aan jou wil uitwys.
Ons sê nie verniet: “The most difficult journey is the journey inwards” nie. ’n Pad van geloof is ’n dapper pad, veral as dit jou na binne neem en jou nooi om jouself te begin raaksien. Mag jy die woorde van Psalm 139 met oortuiging bid en nie wegskram van waarheen God jou dan lei nie.
Comments