top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Bewakers van mekaar se rus


Die lewe vra baie. Ek weet van min mense met een of ander vorm van ‘n dagtaak, wat nie aan die einde van ‘n week moeg is nie. En daarom het ons nodig om te rus. Trouens, ons is gemaak om ons lewe met ‘n sekere heilige ritme van werk en rus in te rig. Vir die meeste mense kan rustyd net oor naweke gebeur. Maar nou is die dilemma dat naweke so volgemaak word met allerhande huishoudelike en sosiale verpligtinge, dat daar dikwels geen sprake van rus is nie. So beur ons van een week na ‘n ander voort, met half leë enjins, omdat ons soms vir weke aanmekaar nie kans kry om te rus nie.


Rus lyk natuurlik dramaties anders vir elke mens. Ekstroverte en introverte se idee van rus verskil radikaal van mekaar! Wanneer ‘n mens saam met ander mense leef, het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar om mekaar dit te gun om te rus, op die manier wat elke individu dit nodig het. Ons het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor onsself om seker te maak dat ons die soort rus kry waarsonder ons nie optimaal kan funksioneer nie. En dan is daar die kompromieë wat gemaak word waar verskillende mense saamleef, om mekaar se behoeftes wedersyds so goed as moontlik in ag te neem .


Dit is hier waar ons gesonde grense nodig het, sodat ek kan sê hoe ek nodig het om te rus, op watter manier ek dit graag wil doen, asook wat die res van die mense in my lewe van my op ‘n gegewe dag kan verwag al dan nie. Wanneer ek met gesonde grense oor my eie behoefte aan rus funksioneer, is die kans goed dat ek ook ander mense se behoefte om op ‘n sekere manier te rus sal respekteer.


Ons moet mekaar dit gun om te rus. Trouens wil ek verder gaan en saamstem met Rainer Maria Rilke waar hy iewers hierdie sinsnede skryf: “Each appoints the other to be the guardian of his solitude”. Dit is vir my aangrypend. Ek gun jou nie net rus nie, maar ek word die bewaker van jou stilte, afsondering en rus.


Ongelukkig is dit juis so dat ‘n mens se naaste mense jou dikwels nie stilte, afsondering en rus gun nie. Stel jou voor wat ‘n lewegewende ruimte word ons bestaan, daar waar ons ook in terme van rus en verantwoordelikhede kan gee en neem. Ek hoor hoe ‘n man vertel dat hy naweke vrees omdat sy vrou elke Vrydag vir hom ‘n lang lys van take in en om die huis gee. Ek hoor hoe ‘n vrou sê dat naweke haar uitmergel omdat sy heel naweek inkopies doen, kos maak en regstaan vir maats en kuiergaste.


Mag jy iewers hierdie naweek dapper genoeg wees om die rus in te pas wat jy nodig het. Mag jy ook al meer die bewaker van ander mense se rus word.

6 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


Les commentaires ont été désactivés.
bottom of page