top of page
  • Black Twitter Icon
  • Black Facebook Icon
  • Black Instagram Icon

Vry

Writer's picture: Marina StrydomMarina Strydom


In Lukas 6:37 sê Jesus “Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”

Wat presies beteken dit om vry te spreek? Ek vermoed dit beteken dat ek my behoefte aan vergelding, geregtigheid, om die laaste sê te hê of om reg te wees, sal laat gaan. Dat ek die persoon wat my skade aangedoen het sal vrystel van hulle skuld en hulle in vrede laat gaan terwyl ek sê: “Ek begeer niks slegs vir jou nie. Mag dit met jou goed gaan.” Deur iemand anders vry te spreek, word ek ook vry.


Die verhaal word vertel van ‘n jong man wat op ‘n dag onder groot onmin en met arrogansie en eiegeregtigheid sy tasse gepak het en sak en pak by sy ouerhuis weg is, met die intensie om sy ouers nooit weer te sien nie. Die dae het weke geword en die weke maande. Hy het hard probeer om te vergeet van sy wrok teenoor sy ouers en probeer om daardie deel van sy verhaal te onderdruk.


Uiteindelik, na baie jare, het dit aan sy gewete begin knaag. Later kon hy nie meer slaap in die nag nie en het hy besef dat hy sy ouers ‘n reuse onreg aangedoen het. Deur familie het hy gereeld gehoor hoe sy ouers navraag doen oor hom en wonder hoe dit gaan.


So besluit hy toe om aan hulle ‘n brief te skryf. In die brief sê hy dat hy op ‘n gegewe dag op die trein gaan klim en in die rigting van sy tuisdorp gaan ry. Sy ouers het reg langs die treinspoor ‘n entjie buite die dorp gewoon. Hy vra toe of hulle, indien hulle hom kon vergewe, asseblief ‘n wit sakdoek aan die boom in die voortuin sal ophang.


Op die afgespreekte dag het die man op die trein geklim en in die rigting van die dorp gery. Soos hulle nader gekom het, het hy al benouder geraak. Toe hulle amper by die dorp was, het die man se moed hom skielik begewe en hy kon net nie aanhou om by die venster uit te kyk nie, uit vrees dat hulle dalk nie die wit sakdoek sou uitgehang het nie. Hy vra toe aan die persoon oorkant hom of hy sal omgee om namens hom by die venster uit te kyk, waarop die persoon ingestem het. Toe hulle by die plek kom, kyk die man by die venster uit en sê: “Ek sien nie ‘n wit sakdoek nie. Ek sien wel dat die hele boom toegespan is met ‘n wit laken.”


Hierdie gebaar van sy ouers was meer as vergifnis. Dit was vryspraak. Maar dit het nie noodwendig beteken dat die seun welkom was om terug te gaan en weer dieselfde pynlike dinge aan sy ouers te doen nie.


Miskien is dit presies waaroor dit gaan om iemand vry te spreek. Om iemand op so manier vry te spreek dat hy/sy werklik in vryheid kan aangaan met die lewe, maar om nie aan die persoon die vrypas te gee om maar net weer sonder respek dieselfde wandade te doen as vantevore nie.


Daar is mos hierdie spreekwoord wat sê: “Forgive and forget.” Dalk is “forgive and forget” effens problematies. Dalk moet ons eerder iets sê: “Let be and learn.” Wanneer ek iemand vryspreek en terselfdertyd die lesse leer wat ek moet leer, is ek ook vry om nie weer in dieselfde strikke te trap as voorheen nie.


Ek glo Joan Chittister is reg as sy sê: "When we have suffered enough not to care if the hurts of life have all been healed, but only that they no longer bind us, we have finally learned to live."








53 views0 comments

Comments


bottom of page