Soos miswolke voor die môreson
- Marina van der Linde
- Sep 25, 2024
- 2 min read

'n Jong paartjie het in 'n nuwe huis ingetrek. Die volgende oggend terwyl hulle ontbyt eet, het die jong vrou gesien hoe haar buurvrou die wasgoed buite ophang en gesê:
"Daardie wasgoed is nie baie skoon nie; sy weet duidelik nie hoe om dit reg te was nie. Miskien het sy beter seeppoeier nodig.” Haar man het dit gehoor en stilgebly.
Elke keer as die buurvrou haar wasgoed opgehang het om droog te word, het die jong vrou een of ander opmerking gemaak.
'n Maand later was die vrou verbaas om mooi skoon wasgoed op die lyn te sien en sy het heel sarkasties vir haar man gesê: "Kyk, sy het uiteindelik geleer hoe om behoorlik te was. Ek wonder wie het haar geleer?"
Die man het geantwoord: "Ek het vanoggend vroeg opgestaan en ons vensters gewas."
En so is dit met elkeen van ons ook. Wat ons sien wanneer ons na ander kyk, hang af van die helderheid van die venster waardeur ons kyk.
Moet dus nie te vinnig wees om ander te oordeel nie, veral as jou lewensperspektief vertroebel word deur woede, jaloesie, negatiwiteit of onvervulde begeertes.
Ann McSwain sê: “Judging a person does not define who they are. It defines who you are.”
Om veroordelend te wees is nogal een van ‘n paar sondes wat ons almal in gemeen het. Ek dink ek ken dalk een mens wat nie veroordelend is nie, en hy is omtrent ‘n engel in lewende lywe, maar ek sal dit nooit vir hom sê nie, want dit mag hom dalk effens minder van ‘n engel maak.
Ons mense hou nou maar eenmaal daarvan om te polariseer, kant te kies en iemand anders te beoordeel op grond van ons eie kriteria van wat ook al. Dit terwyl daar nie een van ons is wat nie ook met ‘n hele hoop dinge loop waarvoor ons nie ook veroordeel sou kon word nie.
Nie eers Jesus het Homself aangematig om te oordeel nie. Kyk gerus wat staan in Johannes 3:17 en Johannes 12:46-47.
Dalk is jy vandag die een wat deur ander geoordeel word. Mag die Here aan jou die genade gee om jou kop op te tel en nie ook veroordelend te wees nie.
Dalk dink jy dat jy nie so veroordelend is nie. Dink dan dalk hoe die mense met wie jy tans die skerpste verskil jou beleef.
Om te sien hoe veroordelend ek is, is ‘n reuse geskenk. Die oomblik as ek dit raaksien, kan ek dit voor die Here bring en Hom vra om my veroordelende en harde hart te verander, want self gaan ek dit nie regkry nie.
Dalk help die woorde van Pous Francis ons so ‘n klein bietjie: “Jesus challenged us not to judge but to live with the tension and let God and history make the judgments. So we need to live by our own convictions and let others do the same.”
Mag ons elkeen intern so vry raak, dat die behoefte om ander te oordeel en die redes oor waarom ons dit doen, met verloop van tyd soos miswolke voor die môreson verdwyn.
©️ Marina vd Linde 2024
Yorumlar