In ‘n gesprek die afgelope week vertel die persoon van iemand wat altyd vir haar sou sê: “Om ‘n Christen te wees is om gesê te word.” Daardie sin steek nou al heel week in my kop vas. Om gesê te word…
Ek weet nie van jou nie, maar my ervaring is dat die meeste van ons nie daarvan hou om gesê te word nie. Ons wil nie voorgeskryf word of ons laat teregwys of ons laat aanspreek nie. Die oomblik as dit gebeur spring ons ego’s soos parate soldate in plek, gereed vir die aanval. En tog is dit ‘n noodsaaklike deel van om as gelowige op ‘n pad van groei te wees.
Daar is dalk te veel van ons wat dink dat aanval die beste manier van verdediging is. Wat sou gebeur die oomblik as iemand my van iets in myself bewus maak en ek nie dadelik reageer met: “Ja, maar jy…” of “Dis maklik om uit te wys wat ek verkeerd doen. Kom ek vertel jou wat jy verkeerd doen.” Deur so te reageer mis ek die noodsaaklike geleentheid om in daardie oomblik te kies teen my ego se behoefte aan verdediging. Ek mis die kans om my oop te stel om teen die vernedering van my ego te kies en oop te wees om gevorm te word.
Wanneer ek nie oop is daarvoor om gesê te word nie, is ek nie bereid om te groei en getransformeer te word nie. Die meeste van ons is meer rigied en meer vasgeval in ons ou patrone van dink en optree as wat ons wil erken. Om daarvan losgewikkel te word, gebeur meestal in die morsige interaksie met ander mense, wanneer hulle dinge sê oor ons waarvan ons nie hou nie.
So volgende keer, wanneer iemand jou op een of ander manier bewus maak van jou optrede, probeer om nie dadelik te reageer nie en beslis nie dadelik aan te val nie. Luister eers. Sê dalk iets soos: “Ek hoor wat jy sê. Ek wil daaroor gaan dink.” Gaan dink dan, terwyl jy jouself oopstel vir God se Gees. As jy besef daar steek waarheid in wat die persoon gesê het, bring dit voor die Here en sê: “Here, ek kan sien dat ek so is. Verander my.” Dit mag dalk nodig wees dat jy teruggaan na die persoon en iets sê soos: “Ek het gedink oor wat jy gesê het. Daar steek waarheid in en ek is jammer dat ek so opgetree het. Dankie dat jy my daarvan bewus gemaak het.”
Om die spieël daarna na die ander persoon te draai en die persoon daarna te wys op sy of haar tekortkominge, is nie net onvolwasse en kleinlik nie, maar staan in die pad van ‘n mens eie diepliggende transformasie en spirituele groei. Die ander persoon se beurt sal wel weer kom.
Hierdie is nie die maklikste pad nie, maar as ek ‘n mens wil wees wat groei en wat omvorm word om die beste weergawe te wees van wie God my bedoel het om te wees, sal dit vra dat ek bereid sal wees om gesê te word.
Commentaires