top of page
Writer's pictureMarina Strydom

Oë op die horison


Wanneer ‘n mens die eerste keer op ‘n boot op die oop see vaar is die eerste raad wat jy kry: “Hou net jou oë op die horison”. Slim mense sê dat die vaste punt waarna jy kyk, help om aan jou vestibulêre stelsel die boodskap te gee dat jy nie besig is om jou interne ekwilibrium te verloor nie en so voorkom jy hopelik dat jy seesiek word.


Hierdie jaar was beslis een waar ons ons oë op die horison moes hou. Die onsekerheid, aanpassing, smag na “normaal” leef, verlies en hartseer en leer om op ‘n ander manier oor die lewe te dink – dit terwyl ons gewone lewens moet aangaan – het beslis sy tol geëis. En die golwe bedaar nie. Soos jy goed weet is ons tans weereens besig om neus eerste in ‘n onbekende storm in te vaar.


Dit is in tye soos die dat ons steeds hoor hoe die Here sê: “Wees stil, bedaar en weet dat ek God is.”


Elke keer as dit voel of die golwe jou wil verswelg kan jy dalk hierdie eenvoudige oefening (deur Richard Rohr) doen, terwyl jy met elke nuwe sinsnede ‘n paar keer diep asemhaal en bewus word van die Here by jou:


Wees stil en weet ek is die Heer;

Wees stil en weet ek is;

Wees stil en weet;

Wees stil;

Wees…


In hierdie vreemde tye waarin ons leef, tye wat net al vreemder word, kan hierdie eenvoudige woorde die vaste punt op die horison wees. Mag jy beleef hoe dit help om jou interne ekwilibrium in balans te hou, al voel dit sommige dae of die horison agter die deinings verdwyn. Mag daar genoeg dae wees van gladde water, rus, vrede en harmonie met jouself, God en ander.

14 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page