Wanneer ‘n mens die woord “roeping” hoor is jy geneig om te dink aan een of ander taak “daar”, terwyl dit waarskynlik eerder gaan oor wie ek “hier” is. My roeping is nie iets wat daar ver is wat ek moet gaan ontdek nie. Dit is veel eerder iets wat reeds binne-in my ingebou is, waarvan ek moet bewus word, maar soos jy waarskynlik met my sal saamstem, is dit nie so ‘n eenvoudige taak nie en kan dit vir baie mense ‘n leeftyd neem. My roeping het meer te doen met wie ek “is” as met wat ek “doen”.
God het jou roeping reeds in jou in-bedraad het. Soos wat jy met ander woorde jouself beter leer ken en agterkom wat die essensie van jou bestaan is, sal jy ook stelselmatig begin agterkom wat die roeping is wat God aan jou gegee het. Daardie deel van Sy droom wat Hy op ‘n unieke manier in jou ingebed het, waarmee jy iets van Hom vir die wêreld kan bring. ‘n Mens se roeping is ook nie staties nie, maar vloeibaar en kry nuwe gesigte en diepte soos die jare aanstap.
Belangrike vrae wat ‘n mens kan help om polsslag van jou roeping te vind, is vrae soos:
Waarna smag jy?;
Wat gee jou ‘n “kick”?;
Wanneer voel jy jy is in jou “sweet spot”?;
Wanneer beleef jy dat jy “in die flow” is?;
Wanneer voel jy dat jou lewe sin maak; en
Wat is die diepste begeerte van jou hart?
In Efesiërs 4:1 staan daar: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” Met hierdie woorde moedig Paulus ons aan dat ons lewe in praktyk, sal pas by die koördinate van ons siele. Dit help maar min as ek binne-in my bewus is van ‘n dieper pad wat in lyn sou kon wees met God se wens of droom vir my lewe, maar ek kies nie om in my alledaagse lewe die soort pad te stap wat my al meer in daardie rigting sou kon stuur nie. Dit gaan dus oor ‘n lewenstyl, oor daaglikse keuses en daaglikse praktyke wat my kan help om al meer in lyn te leef met my roeping.
Daar is baie van ons wat nie behoorlik ‘n vinger kan sit op presies wat my roeping nou eintlik is nie, maar ek vermoed die meeste van ons weet wat min of meer wat ons roeping NIE is nie. Dit op sigself help alreeds om darem min of meer die algemene rigting van my roeping te verstaan. So kan ek dan ten minste al sekere keuses maak wat my wegstuur van daardie dinge wat ek eintlik diep in myself weet nie vir my bedoel is nie.
Praktyke wat my kan help om agter te kom wat my roeping is en om my te help om die lewenswandel te onderskei wat in lyn met my roeping is, is dinge soos:
· Langer en korter tye van afsondering (alleen) en stilte - om by God en jouself te wees.
· Sielstyd waar jy in kontak kan kom met jou siel – tyd in die natuur, kreatiewe tyd, waar jy sonder die agendas van ander vir ‘n rukkie vry kan asemhaal.
· Reflektiewe en onderskeidingspraktyke aan die einde van ‘n dag of week, soos dagrefleksie, skryf in ‘n joernaal, spirituele begeleiding en ander “sacred conversations” met iemand wat jou op jou pad ondersteun.
· Enige ander praktyke wat jou siel voed.
Al hierdie soort praktyke help my om nie net op die oppervlak van my lewe te leef nie en die lewe maar met my te laat gebeur nie, maar om agter te kom dat ek met intensie kan leef, omdat God iets van sy groter droom reeds in my geplant het.
Mag jy meer en meer ‘n lewenswandel kies wat jou roeping waardig is en wat jou kan help om te weet wat God se wens en droom vir jou is.
Comments